Slaggat-projek in Potchefstroom vorder met herstelwerk

Die #ProPotchPothole-projek, wat help om slaggate rondom Potchefstroom te herstel, het reeds tussen R200 000 en R300 000 se donasies ontvang, het Jonathan Baron, voorsitter van die Potchefstroom Sakekamer in ʼn onlangse onderhoud gesê.

Die #ProPotchPothole-projek poog om binne 100 dae al die slaggate op Potchefstroom se hoofroetes te herstel en word deur die Potchefstroom Sakekamer, in samewerking met die JB Marks plaaslike munisipaliteit en die konstruksie-kontrakteurmaatskappy ALS-groep gedryf.


’n Infografika wat wys die #ProPotchPothole-projek het 220m² se slaggate in die eerste week van die projek se 100 dae gevul. (Infografika: Potchefstroom Sakekamer)

“Ons is baie dankbaar vir die wonderlik reaksie wat hierdie projek kry. ’n Miljoen rand is wel nodig om al vyf van Potchefstroom se hoofroetes gelyk te maak,” het hy gesê.

Kgotso Khumalo, burgemeester van die JB Marks plaaslike munisipaliteit, het verlede week een van die #ProPotchPothole-projek se werkterreine besoek om sy steun te wys.

“Ons hoop en glo dat hierdie inisiatief die infrastruktuur van ons paaie sal verbeter en ons stad slaggat-vry sal maak. Die munisipaliteit sal baie tyd, hulpbronne en personeel aan hierdie projek beskikbaar stel,” het Khumalo in ʼn video-boodskap aan die gemeenskap gesê.

Die voortslepende terugveg-poging teen die huidige toestand van die paaie in en rondom Potchefstroom het verlede jaar ʼn hoogtepunt bereik, aangesien die plaaslike gemeenskap hul kommer gereeld op sosiale media uitgespreek het. threestreamsmedia het ook verlede jaar ’n kaart geskep waarop slaggate in die dorp aangedui is, wat tot baie reaksie op sosiale media gelei het.

“Ons is al ʼn hele rukkie omgekrap oor die toestand van die dorp se paaie, die veiligheid van motoriste word bedreig deur skade aan voertuie wat gereeld voorkom,” het Baron gesê.

Van Potchefstroom se inwoners het egter hul kommer uitgespreek op die Potchefstroom Sakekamer se Facebook-blad oor die JB Marks munispaliteit se betrokkenheid by die projek, aangesien die munisipaliteit beskuldig word van swak bestuur en deur inwoners gesien word as die rede waarom paaie in so ’n slegte toestand is.

Volgens Baron speel die munisipaliteit egter ʼn kardinale rol in die projek. “Ons is dankbaar vir hul betrokkendheid en samewerking. Die munisipaliteit het nie net toestemming gegee dat ons aan die paaie mag werk nie, maar verskaf ook van die hulpbronne en materiale wat gebruik word om die projek van krag tot krag te dryf. Verder help hulle ook om al die verhoudings met munisipale rolspelers en ander belanghebbendes te bestuur.”

Die #ProPotchPothole-projek is nie-winsgewend en die Potchefstroom Sakekamer dryf die projek en administreer ook alle fondse alleenlik. “Ons betaal die ALS-groep om die herstelwerk te doen soos wat die projek vorder,” het hy gesê.


’n Infografika wat wys op watter hoofroetes rondom Potchefstroom slaggate herstel word. Baron daag alle besighede en gemeenskapslede uit om betrokke te raak. (Infografika: Potchefstroom Sakekamer)

“Elke Potchefstromer wat gatvol vir slaggate is, is welkom om die projek te ondersteun indien hulle graag wil. Elke R500-donasie herstel ʼn slaggat van 1m² op die pad van jou keuse,” het Baron gesê.

Studente kan ook bydraes maak en help om bewusmaking rondom die projek te skep, veral op sosiale media.

Kontak Johan Janse van Rensburg by 0824500451 of Jonathan Baron by 0845063706 vir meer inligting.

Volg die projek op sosiale media by https://www.instagram.com/potchsakekamer/