Terugkeer na studentelewe ‘op die tafel’ as genoeg mense hulle laat inent

Studente kan hulle nog op 18 en 19 September op die Potchefstroom- en Mahikengkampusse van Noordwes-Universiteit (NWU) teen Covid-19 laat inent waarna hulle elders hul inspuitings sal moet kry.

Die NWU het gedurende die laaste paar maande, sedert dit as inentingsentrum geopen het, sowat 20 000 studente en personeel ingeȅnt, volgens inligting wat op 13 September via SMS aan studente gestuur is.

Luidens die kennisgewing sal studente hulle na die naweek by ander fasiliteite van die provinsiale gesondheidsdepartement of in die privaatsektor soos apteke moet laat inent. 

‘n “Normale studentelewe” op die Potchefstroomkampus is ‘n rede waarom studente hulle laat inent, blyk uit ‘n kitspeiling wat threestreamsmedia in Augustus onder 40 studente gedoen het. 

Volgens die peiling het 73,8% van studente gesȇ hulle bereid om hulle te laat inent, terwyl 26,2% daarteen gekant is.

Van links is drs. Corrie Rheeder en Emile Kotzé, Danielle Giorgi, voorsitter
van die kampusstudenteraad, en Duane Aslett, die direkteur van strategie
in die kantoor van die vise-kanselier, prof. Dan Kgwadi, tydens
‘n inligtingsessies by Heide Dameskoshuis. Foto: Ané Janse van Rensburg.  

Tydens  ‘n fasiliteringsessie, wat in Augustus deur dr. Emile Kotzé, die NWU Potchefstroomkampusdokter, en dr. Corrie Rheeder, die direkteur van die studentelewe op die kampus, gelei is, het hulle gesȇ dat “enstofhuiwering” dikwels nie op  wetenskaplike bewyse gegrond is nie. As gevolg van onder meer ‘n oormaat inligting word mites oor onder meer die newe-effekte van die entstof opgemaak. 

 Kotzé het gesȇ die entstof keer nie die oordrag van die virus nie, maar verminder die komplikasies. Met verwysing na die die studentelewe, het hy gesê : “Ons wil baie graag die universiteit oopmaak vir die studentelewe. Dit word beskou as die NWU se ‘grootste bate’. Dit is dus vanselfsprekend dat dit weer na normaal moet terugkeer”. 

Inforgrafika: Chavonne Robbertse

Louis Jacobs, die woordvoerder van die NWU, het gesê as die meeste mense ingeȅnt word, is die studentelewe op die tafel, maar onderhewig aan die nasionale voorskrifte en regulasies vir aktiwteite.

“Die primêre doel van alle betrokke partye bly steeds om die veiligheid van studente en personeel te handhaaf”, het Jacobs gesê. – Ané Janse van Rensburg, Jana Schlechter, Dihan Putter en Chavonne Robbertse

Die ry buite Dampad-eetsaal, ‘n inentingsentrum op die Potchefstroomkampus,
kort nadat die inenting vir 18-jariges en ouer geopen het. Foto: Dihan Putter

1 thought on “Terugkeer na studentelewe ‘op die tafel’ as genoeg mense hulle laat inent

  1. Elkeen het die reg v keuse verkry … deur God self ook bepaal om te kan kies…
    Ek kies om nie deel v ‘n globale eksperiment te wees nie… ek kies lewe… natuurlike immuniteit…sterker as enige entstof al bewys!

Comments are closed.