Studente wil bietjie werk, maar ook rus dié vakansie

Na ʼn veeleisende semester, maak studente vakansieplanne ten spyte van rekordhoë petrolpryse, kragonderbrekings en vriesende winterweer. threestreamsmedia het met ʼn paar studente van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroomkampus gesels om te hoor wat hulle planne is.

Ruth Pretorius (21), honneursstudent in forensiese rekeningkunde, en haar sussie, Maruzel Pretorius (19), eerste jaar besigheidsrekeningkunde-student, durf die langpad na hul tuisdorp, Worcester, aan. Dit gaan hulle sowat 14 uur op die pad neem voordat hulle hul karsitplekke kan verruil vir die sitkamerbank voor die televisie. 

“Ons gaan iewers vir ‘n naweek Gansbaai toe om te celebrate dat ek en my sussie na drie maande weer by die huis is. Dit het so bietjie van ‘n tradisie geword om see toe te gaan wanneer ons terugkom,” sê Ruth. 

Ruth sê verder dat sy gaan tyd eenkant sit om aan haar skripsie te werk, iets wat vele ander honneurstudente beplan. 

“Ná die besige semester gebruik ek die vakansie om myself bietjie te recharge,” sê Illani Havenga (22), honneursstudent in korporatiewe kommunikasie. Sy beplan om die eerste helfte van die vakansie te spandeer aan persoonlike projekte soos om kortverhale te skryf, aanlyn kursusse op Udemy te doen en te lees.

“Die tweede helfte van die vakansie gaan ek en my gesin kamp by Forever Resorts Tshipise, waar ons gaan kuier met familie wat uit Amerika kom vakansie hou,” sê Havenga.

Ander studente ry Jan Tuisbly se karretjie deur net hier in Potchefstroom te bly. 

“Universiteit was dié semester so oorweldigend! Dit voel amper of ek  ʼn drie jaar kurses in ʼn semester moes doen,” sê Dineo Mashiane (22), ‘n honeursstudent in bemarking. Sy spandeer haar vakansie in Potchefstroom omdat sy ‘n internskap begin. Sy hoop dat iets interessant gaan gebeur aangesien dit haar verjaarsdagmaand is, alhoewel Potchefstroom reeds in  ʼn spookdorp verander het met baie studente wat huis toe gaan.

“Anders as dit, beplan ek om planne vir my toekoms te maak en tyd te maak om bietjie te ontspan wanneer ek die kans kry,” sê Mashiane.

Vele studente soos Mashiane gaan die vakansie werksgeleenthede benut en dus tuisbly – óf in Potchefstroom óf in hul tuisdorp. Hulle hoop om in hulle aftye bietjie te ontspan. Een sô ʼn student is Deon Ehlers (20), tweede jaar geoktrooieerde rekenmeesterstudent. 

“Ek gaan een naweek gaan visvang, indien moontlik, en op vakansie gaan as my ouers dit gereël het. Dis dit,” sê Ehlers.

1 thought on “Studente wil bietjie werk, maar ook rus dié vakansie

Comments are closed.