Vlotte by JOOLpretdag laat (pop)koppe draai

Die kleurvolle karakters van die tekenprent Trolls op Huis Republiek-vrouekoshuis en Invictus-manskoshuis se vlot. Foto’s: Nica-May van Zyl

Kersvader spog op die een vlot en Shrek op die ander, selfs Faf de Klerk en die Wêreldbeker was te siene. Die karakters was almal deel van die vlotte wat deur  Noordwes-Universiteit (NWU) se sleepkoshuise gebou is.

Die vlotuitstalling, in die kleure van die reënboog, is op 17 Februarie op die JOOLplaas, wat deel is van die Fanie du Toit-sportterrein, gehou.

Die 14 vlotte wat die sleepkoshuise gebou het, was heeloggend Saterdag te besigtig.  Vanjaar se tema was Introgimental, ʼn samestelling van incredible, filantropie, original, fundamental. Elke vlot het ʼn unieke verhaal vertel binne die tema, danksy die talentvolle koshuisinwoners se kreatiwiteit. 

Dominique Bothma, NWU portefeuljekomiteelid vir JOOL het gesê dat koshuise die temawoord kry en hul vlot beplan op grond van hul eie interpretasie daarvan.   

Bothma het gesê wat vanjaar uitgestaan het, is dat al die koshuise se vlotte dieselfde standaard gehandhaaf het. “Gewoonlik is daar uitskietervlotte, so vlotte wat baie afgeskeep lyk, maar dié jaar het elke sleep werklik verskriklik baie moeite gedoen.”  Bothma het gesê sy dink die beoordelaars gaan sukkel om ʼn wenner te kies.

Inwoners van Minjonet-vrouekoshuis by die vlot wat hulle saam met hul sleep, Caput-manskoshuis, gebou het. Van links is Jessica Pieterse, Cara Roux, Susan Lamprecht, Martie de Wet, Hezandri van der Westhuizen en Tané Barnard.

“Daar is niks so wow soos dit nie,” het Etienne Bester, Heimat-manskoshuis se JOOL-huiskomiteelid (HK-lid), gesê oor die gevoel wat hy gekry het toe die seile die eerste keer gesak het en hy die vlot kon sien.

Rianca Joubert, ʼn lid van Klawerhof-vrouekoshuis se JOOLspan, het gesê die mense wat aanhou saamwerk, is ongeag min energie en baie stres “lekker” mense.  Joubert, ʼn derdejaar, het ook die meeste uitgesien daarna om die hele vlot te sien en om te kan sê “ek was deel van die span en ons het goed gedoen”.

ʼn Algemene uitdaging van JOOL se bouspanne vanjaar was die beperkte tyd om die vlotte gebou te kry.  Theunis (Faf) de Wet, Die Kampus Studenteraad (KSR) se Voorsitter van JOOL, het gesê dat ten spyte van die feit dat tyd nie aan hul kant was nie, “hulle baie reggekry het met die tyd wat hulle gehad het”.

Elzanne Hattingh, NWU Portefeuljekomiteelid vir JOOL, het gesê die bemarking moes vanjaar vinnig gebeur en baie gou aandag trek. Ondanks die uitdagings was dit “suksesvol”.  

Die Ouma van die tekenprent The Lorax pryk op Dinki-vrouekoshuis en Veritas-manskoshuis se vlot.

Het jy geweet?

  • JOOL staan vir Jou Onbaatsugtige Opoffering vir Liefdadigheid.
  • ʼn Sleepkoshuis is ʼn vroue- en manskoshuis wat die grootste jaarlikse aktiwiteite soos byvoorbeeld JOOL, Canvas, Binglesêr en die eerstejaarskonsert saam aanpak.