Twee Potch-studente se aanlyn klerewinkel gaan van krag tot krag

Die aanlyn klerewinkel Tehillah Clothing, wat deur twee studente van Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroomkampus bedryf word, gaan van krag tot krag. Hul nuwe sweetpakbroekreeks is Donderdag bekend gestel.


Tehillah Clothing se nuwe reeks sweetpakbroeke is Donderdag bekend gestel. (Foto: Verskaf deur Johaneske de Lange)

In die onderneming se eerste maande het hulle agt bestellings ontvang. Tehillah Clothing kry tans meer as 50 bestellings per maand, waarvan talle groot bestellings vir troues is.

Volgens  Johaneske de Lange (20), ’n derdejaarstudent in verbruikerstudies en medestigter, bestuurder en ontwerper van Tehillah, het sy en haar kêrel, JP Pelzer (22), ’n vierdejaar- BCom-bemarkingsbestuurstudent, agt maande gelede Tehillah Clothing saam begin nadat sy ’n leemte in die kleremark vir jong vroue opgemerk het.

Johaneske de Lange, medestigter van Tehillah Clothing, gee raad aan ander jong entrepreneurs. (Video: Karlien Meiring)

“Die grendeltyd was vir my ’n vreeslike uitdagende tyd en my besige persoonlikheid het gesukkel om daarby aan te pas. Ek het daarom besluit om aansoek te doen vir ’n assistentpos by ’n aanlynwinkel met die hoop dat dit my besig sou hou. Ek het nie die werk gekry nie en dit het my bewus gemaak van die geleentheid wat ek gehad het om ’n besigheid van my eie te stig,” het sy gesê.

Pelzer se ouers was die eienaars van ’n onderneming in Durban, en dit is sy droom om in hul voetspore te volg. “Ek het ’n opvoeding in die sakewêreld en droom self daarvan om ‘n suksesvolle sakeman te wees, so dit het nie veel oortuiging gekos vir my om as haar vennoot aan te sluit nie,” het Pelzer gesê.


Die span agter Tehillah Clothing is NWU-studente Johaneske de Lange (20) en haar kêrel, JP Pelzer (22). (Foto: Verskaf deur Johaneske de Lange)

Volgens die Tehillah Clothing-webtuiste spesialiseer die handelsmerk in sagte, vroulike en elegante style, gemik op vroue tussen die ouderdomme van 15 en 25. “Ons ontwerpe is klassiek en sal dus nie vinnig uit die mode gaan nie, maar is steeds bekostigbaar en eksklusief,” meen De Lange.

Tehillah het aanvanklik net satyn nagklere en somerhempies verkoop, maar het sedertdien uitgebrei na sweetpakbroeke en gaan binnekort ook wintersokkies en handdoeke vrystel. Bruide maak veral gebruik van die Tehillah-nagklerereeks vir hul blommemeisies se regmaak-fotosessies.


Tehillah Clothing se satyn nagklerereeks is veral populêr onder bruide en hul blommemeisies. (Foto: Verskaf deur Johaneske de Lange)

Die grootste uitdaging bly om voortdurend aan nuwe idees vir produkte te dink en kliënte geïnteresseerd te hou op die besigheid se sosialemedia-platforms. “Ons moes al middel Februarie begin werk het aan hierdie sweetpakbroekreeks vir die wintermaande. Die aankoop van materiaal is ook altyd ’n lang en uitdagende proses.”

De Lange en Pelzer kies self die materiaal. Die klere word dan in ’n klein klerefabriek in Potchefstroom gemaak.

De Lange ontwerp ook die kreatiewe inhoud wat op hul webwerf aangebied word, terwyl Pelzer die administrasie en die boekhouding van die onderneming hanteer.

De Lange en Pelzer se doelwit met hierdie besigheid is om dit volhoubaar te maak en dit eendag as voltydse werk te kan behartig. “Ek wil nie onder iemand anders werk nie en my eie salaris hierdeur verdien. Ek sal ook graag wil hê Tehillah Clothing moet as ’n gevestigde handelsmerk in Suid-Afrika bekend staan,“ het sy gesê.


Tehillah Clothing se kantoor en pakkamer is in Potchefstroom geleë. (Foto: Karlien Meiring)

“Tehillah” is ’n Hebreeuse vroulike naam wat “heerlikheid” of “lof” beteken. Die span het die naam gekies omdat die sagte en vroulike klank daarvan perfek by hul idee vir ‘n handelsmerk gepas het.

Tehillah het kliënte reg oor Suid-Afrika. (Kaart: Karlien Meiring, met die gebruik van Google Maps)

Tehillah Clothing kan op Instagram of Facebook gevolg word.