Stygende pryse maak studente bang en bekommerd
Stygende brandstofpryse, kospryse en die prys vir ander roetine-aankope maak studente bang en bekommerd oor die toekoms.
Die styging in die prys van hierdie items is grootliks as gevolg van die oorlog wat al vir meer as drie maande tussen die Oekraïne en Rusland woed, en die gevolglike styging in die Suid-Afrikaanse inflasiekoers.
Volgens die huishoudelike bekostigbaarheidsindeks van Mei 2022, kos dit gemiddeld sowat R4609,89 per maand om ʼn enkele huishouding in Suid-Afrika aan die te gang te hou. Hierdie koste is bereken met slegs die essensiële en mees algemene kosprodukte in gedagte.
Die R24 per liter wat Suid-Afrikaners tans vir brandstof moet betaal is nog nie ingesluit nie, ook nie die prys van water en elektrisiteit of huur nie. Oor die algemeen is dit, veral vir studente, moeiliker om ekstra geld te kry vir hulle uitgawes.
“Ek is baie negatief oor die hoër pryse. Dit voel of ons van alle kante af besteel en bedrieg word.” Dit was die reaksie van Suné Janse van Rensburg (21), ʼn vierdejaar bedryfsingenieurswesestudent aan die Noordwes-Universiteit (NWU).
Ntate Mosalo (21), vierdejaar in BCom finansiële rekeningkunde, meen dat die stygende brandstofpryse alleen ʼn “oproep tot kommer is”.
“Met die prys van petrol en diesel wat die hoogte inskiet, styg die algehele lewenskoste ook.” Mosalo sê dat kosprodukte ook nou duurder is en dus is dit moeiliker om die noodsaaklikhede wat jy elke maand nodig het aan te koop.
Janey Lombard (21), tweedejaar in kinderkinetika, en Amé Verster (20), ʼn derdejaarstudent in ekonomiese bestuurswetenskap, stem saam dat die onsekerheid oor finansiële stabiliteit ʼn groter impak op studente het as wat mens dink. “Studente is negatief. Hulle swot net om te swot, maar hulle is bang vir wat voorlê ná dit,” sê Verster. Lombard meen dat studente huiwerig is vir die vooruitsig om die verantwoordelikheid van ontabiele finansies op hulle skouers te dra.
Verster sê ook dat sy haarself onder die “bang groep” insluit. “Ek is onseker oor werksgeleenthede in die toekoms. Ek is bang dat klasgelde nog duurder gaan word en daarom ook bevrees dat ek moontlik nog ʼn studielening gaan moet aangaan.”
Studente is nie die enigste groep wat onder die huidige ekonomiese toestand ly nie, maar têrsiere instellings ook.
Louis Jacobs, die NWU se direkteur van korporatiewe kommunikasie, sê dat die universiteit se bestuur ook deur die kostestyging, soos dié van brandstof, beïnvloed word. “Prysstygings is nie ons enigste kommer nie. Beurtkrag is ook in 2022 weer ingestel, wat beteken dat die universiteit se kragopwekkers aangeskakel moet word. Hierdie kragopwekkers word aangedryf deur diesel.”
Jacobs erken dat studente onder die ekonomiese krisis gaan ly. “Studente gaan, net soos die NWU, hul begrotings moet aanpas. Saamrygeleenthede gaan beslis vermeerder, beursaansoeke ook.”
Volgens Janse van Rensburg is die konstante styging in pryse gereeld ʼn vraag ter bespreking onder studente, veral met betrekking tot die toekoms van hul studies. “Die langtermyn effek mag dalk wees dat meer studente na afstandonderrig moet oorskuif of eerder ander aanlyn instansies sal oorweeg.” Sy meen die volhoubaarheid van die land se tersiêre instansies kan ook bevraagteken word.
Ander studente, soos Mosalo, meen dat die nagevolge oor die langtermyn ekonomiese resessie, protes-optrede en die toemaak van besighede kan beteken. Hy meld ook dat ekonomiese skade as gevolg hiervan, geestesgesonheidsimplikasies tot gevolg kan hê.
Daar is egter maniere hoe studente die impak van die huidige ekonomiese kwessies op hul beursies kan verlig. Dit is nodig om sekere opofferings te maak.
Deur sekere lewenstylveranderinge te maak, soos in die grafika hierbo gewys word, is dit moontlik om geld te spaar.