SPESIALE ONDERSOEK: Veeartse, diereliefhebbers omgekrap oor vuurwerke
Minstens twee honde het weggehardloop weens vrees, toe die vuurwerke tydens JOOL op 24 Maart by die Fanie du Toit-Sportterrein begin klap het. Een is gevind, maar die ander is dood nadat hy in ‘n gat geval en verdrink het.
Saretha Oberholzer, wat in die omgewing woon, is steeds ontsteld oor haar boerboel, Koning. Hy het deur die heining om hul erf gebreek, om weg te kom van die lawaai, maar het in ‘n gat vol water geval en verdrink. Sy eienaars het ‘n beloning van R10,000 uitgeloof nadat hy vermis geraak het.
‘n Inwoner wat nie haar naam genoem wou hê nie, het by haar werker gehoor haar Duitse herdershond, Tesla, het weggehardloop tydens die vuurwerke. Hulle woon naby die JOOL-plaas in Mooivalleipark. Gelukkig het PAWS (Potch Animal Welfare Society) haar gevind. Die inwoner het Tesla op 27 Maart daar gaan haal. “Sy was gelukkig meestal by PAWS en is goed versorg.”
Kanonskote en vuurwerke tydens universiteitsgeleenthede soos die Varsity Cup-eindstryd en JOOL vermaak wel die toeskouers, maar die geraas tas die vierpotiges in die omgewing erg aan.
Die afskiet van vuurwerke in Maart 2023 tydens die JOOL-konsert op die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroomkampus het hondeliefhebbers die josie in gemaak. Net na Nuwejaar se vuurwerke het PAWS 80 honde in die dorp opgelaai wat moontlik deur die geraas geaffekteer is en weggehardloop het.
Volgens veeartse in Potchefstroom raak honde angsbevange weens die lawaai en hardloop van hul huise af weg. Hulle kan ongelukke veroorsaak as hulle die pad oorsteek en die vuurwerke kan selfs brandwonde veroorsaak.
Volgens mnr. Smangaliso Mabena, ‘n brandweerbeampte van die JB Marks-munisipaliteit se gemeenskapsveiligheidafdeling, mag vuurwerke slegs afgeskiet word op Nuwejaar, Kersfees en spesiale dae. Die polisie se plofstofeenheid moet permitte hiervoor uitreik.
Hoewel dr. Liza-Marie Lombaard van PotchVetCare nie onlangs baie gevalle behandel het nie, is daar van haar pasiënte wat bang is vir vuurwerke en donderweer. Baie van die eienaars kom voor die geleenthede vra vir kalmeerpille vir hul diere.
Volgens Lombaard is honde baie gehoorsensitief. “Honde kry verskriklike wonde op hul lywe, omdat hulle probeer wegkom maar hulle weet nie waarvoor hulle weghardloop nie. Hulle wil net van die klank en die lig af wegkom. Hulle hardloop hulle moeg, hul pote raak rou, en hulle kan wonde opdoen as hulle oor drade spring,” het sy gesê.
Dr Maartin Jordaan van Bult Dierekliniek beklemtoon dat kliënte tydens die JOOL-naweek vroeër vanjaar ongelukkig was oor die feit dat hul honde angsaanvalle gekry het. “Bykans alle honde toon ongemak weens die harde klapgeluide wat met die vuurwerke gepaard gaan. Baie honde beseer hulself en party hardloop deur heinings as gevolg van vuurwerke.”
Dr. Walder Russouw van Centraal Pet Vet het gesê dat die mees algemene beserings wat hul praktyk hanteer, is wanneer honde beserings op doen wanneer hulle oor palissadeheinings probeer spring om van die vuurwerke af weg te kom. “Ek het al gevalle gesien van honde wat so bang is weens vuurwerke dat hulle op die teerpad hardloop totdat daar nie meer velle aan hul pote is nie,” het Russouw gesê.
Darren Kruger, voorsitter van PAWS, het gesê dat verlede jaar baie stil was, wat vuurwerkverwante gevalle betref, maar hulle het wel 80 honde opgelaai na 31 Desember 2022 se vuurwerke. “Die grootste probleem is dat daar vuurwerke verkoop word in die winkelsentrums asook by die taxistaanplekke. Dit word nie gereguleer nie.”
Kruger het voorgestel dat mense vuurwerke afskiet op plekke vêr van honde, katte, inwoners, hospitale, en motorhuise.
Vuurwerke hou ook baie gevare in vir jong mense en kinders. “Daar is dikwels kinders wat vuurwerke gebruik tydens die feesseisoen en dan ontplof dit in hul hande en gesigte. Dis dus nie net die diere wat in gevaar is nie, dis ook kinders,” het Kruger gesê.
Hy het verduidelik dat een van die struikelblokke waarmee PAWS sukkel, is dat eienaars nie hul honde beskerm wanneer hulle in die feesseisoen met vakansie gaan nie. “Niemand gee vir die honde kos of beskerming nie, en kom Oujaarsaand, dan is daardie hond blootgestel met niemand om hom te kalmeer nie.”
Volgens ‘n artikel op Potch Centraal Vet se webblad, moet honde gedesensitiseer word deur klankterapie, om te verhoed dat hulle nie ’n fobie ontwikkel vir geweerskote, vuurwerke, en donderstorms nie. “Maar die kliënte soek ‘n vinnige oplossing, soos pille. Die kombinasie van middels sonder ‘n desensitasie-program is onsuksesvol as behandeling,” het Douw van der Nest geskryf.
Al drie veeartse stel voor dat die inwoners alternatiewe vorms vir vermaak gebruik, naamlik Silent Fireworks. Hierdie vuurwerke is ‘n alternatief wat nie so baie raas nie.
Stiller vuurwerke is al meer as 30 jaar lank beskikbaar en is aansienlik beter as die ware Jakob, skryf die blogger Dina Fantegrossi.
Die gemiddelde vuurwerk ontplof teen 140-170 desibel, wat hard genoeg is om gehoor te benadeel. In vergelyking is stiller vuurwerke se geraasvlak sowat 70 desibel, wat die geraas vir ons dierevriende met meer as die helfte verminder.
Vuurwerke in Suid-Afrika word beheer deur die Wet op Plofstowwe, Reg 15 van 2003. Daar is ook spesifieke munisipale regulasies wat bepaal dat slegs individue in besit van geldige lisensies mag handel dryf in vuurwerke.
Ingevolge met die wetgewing mag geen plofstowwe of vuurwerke afgeskiet word binne ‘n radius van 500m van enige hospitaal, kliniek, polisiestasie, ouetehuise, verpleegeenheid of dierewelsynsorganisasies nie, en dat dit onwettig is om vuurwerke te gebruik met die doel om diere bang te maak. Volgens die organisasie Law For All, word minderjariges verbied om plofstowwe te hanteer.
Mabena het beklemtoon dat vuurwerke nie verkoop mag verkoop word aan kinders jonger as 16 jaar oud nie. Hulle vereis permitte vir handel in vuurwerke. Dit moet in ‘n bombestande plek gestoor word, ‘n bewys van aankoop deur verskaffer moet gehou word en handelaars moet vertroud wees met plofstofwetgewing. Dit sluit in dat klante nie toegang mag hê tot items op die rakke nie, en dat daar kennisgewings is wat aandui dat vuurwerke aangehou word.
Onder is foto’s van die soort beserings wat diere kan opdoen wanneer hulle skrik vir vuurwerke en bo-oor of deur heinings spring. Let daarop dat die foto’s nie geskik is vir sensitiewe lesers nie.