Potchefstroom se plastiekkrisis

Plastiekbesoedeling word as een van die grootste omgewingskrisisse van ons era bestempel. Om dit teen te werk, begin meer en meer mense wegbeweeg van enkelgebruikplastiek. Die NWU se Potchefstroomkampus en sommige besighede in die Bult-area het ook stappe begin neem om hul plastiekverbruik te verminder. 

Die plastiekkrisis in ’n neutedop. Ontwerp deur Eduard van Loggerenberg

Carina Verster, ’n NWU-navorser en deskundige op die gebied van mikro-plastiek, sê dat die effek van plastiek nie beperk is tot oseane en kusgebiede nie, maar ekosisteme in die binneland insluit, en dit hoy gesondheidsgevare vir mense in. 

Groter plastiekitems wat in kleiner stukkies afbreek, vorm mikro-plastiek. Mikro-plastiekpartikels is kleiner as vyf milimeter en kan nog verder afbreek om nano-plastiek te vorm. Blinkertjies (glitter) wat tydens fotosessies vir gradeplegtighede op die biblioteek-grasperk rond gestrooi word, is maar ’n enkele voorbeeld van plastiekpartikels wat sensitiewe ekosisteme op die NWU se Potchefstroomkampus binnedring. 

Volgens Verster beïnvloed plastiekpartikels organismes op chemiese en fisieke maniere. Omdat plastiek ’n organiese verbinding is, kan sekere gifstowwe daaraan vasheg. In die produksieproses van plastiek word sekere bymiddels by die plastiek gevoeg om dit byvoorbeeld meer buigbaar te maak of te verkleur.

Volgens Verster is hierdie chemikalieë dikwels toksies of selfs karsinogenies. “Wanneer die plastiekpartikel deur ’n organisme ingeneem word, kan dit hierdie gifstowwe in die organisme vrystel,” vertel Verster. Volgens Verster bly gifstowwe dikwels in organismes agter en kan dan bio-akkumuleer. 

As deel van Carina Verster se navorsing neem sy mikro-plastiekpartikels in die groefies van ’n vingerafdruk deur ’n mikroskoop af. Foto verskaf deur Carina Verster

“Nano-plastiek, wat nog kleiner is as mikro-plastiek, kan sellulêre membrane van organismes binnedring,” sê Verster. “Makro-plastiek kan nog uit ’n ekosisteem verwyder word, maar as dit eers op mikro- of nano-vlak is, is dit byna onmoontlik.” Dus is dit belangrik om minder plastiek te gebruik, plastiekitems te hergebruik en uiteindelik te herwin.

Volgens Plastics SA maak die verpakkingsindustrie omtrent die helfte van die plastiekmark in Suid-Afrika uit.

Klipoog Kafeteria en die eetsale op die Potchefstroomkampus gebruik hoofsaaklik polistireenbakkies en -houers om klaargemaakte maaltye in te bedien. Twee verbruikerstudente, Lara du Toit en Anneh Pretorius, het besef hoe baie plastiekvullis onnodig geskep word en begin om hul eie eetgery na eetsale te neem. 

“Ek het aanvanklik gedink dat my inisiatief nie ’n groot verskil gaan maak nie omdat ek net een mens is,” sê du Toit, “maar toe besef ek dat ’n miljoen mense se klein aksies saam tot drastiese verandering kan lei.”

Volgens Johan Nel, 19/20 voorsitter van AKSA (Aktuele Sake), is die meeste studente egter nie lus om plastiekalternatiewe te gebruik nie omdat dit ongerieflik en duur is en nie noodwendig ’n prioriteit is nie. “As studente slaptjips soek, gee hulle nie rêrig om of hulle dit in ’n plastiekhouer, kartonboks of polistireenbakkie kry nie,” sê Nel. 

NWU woordvoerder Louis Jacobs, sê dat beide die kafeteria en eetsale dit al oorweeg het om oor te skakel na bioafbreekbare alternatiewe maar dat dit nie koste-effektief is nie.

Klipoog Kafeteria verduidelik: “Ons kan nie die koste daarvan [plastiekalternatiewe] in ons prysstruktuur absorbeer nie,” Gevolglik volg die NWU ’n gefaseerde benadering om geleidelik weg te beweeg van enkelgebruikplastiek. By vyf eetsale is daar reeds suikerrietborde te koop en by die kafeteria word koffie in papierkoppies verkoop. 

Sommige besighede in die Bult begin ook geleidelik meer plastiek alternatiewe inkorporeer en hul herwinningsprogramme opskerp maar die ekonomiese lewensvatbaarheid van hierdie inisiatiewe vertraag volhoubare vordering. Eienaar van Die Akker Koffiehuis, Bertus Els, sê dat dit moeilik is om bioafrbeekbare materiaal van plaaslike verskaffers te kry teen billike pryse wat ekonomies sin maak. 

Die Insleep kafee het beide papier- en plastieksakkies beskikbaar. Volgens Mubeen Motara, Insleep-eienaar se seun, sal Insleep dit verkies as studente hul eie sakkies bring. OK Foods in Cachet Park laat kliënte toe om los vrugte of groente te koop sonder plastiekverpakking. Kliënte is ook welkom om hul eie sakke saam te bring. 

Toro se bioplastiekkoppies lyk nes gewone petroleum-gabaseerde plastiek, maar dit word van plantvesels gemaak. (Foto deur Victor Helberg)

Die koffiewinkel Toro probeer hard om so omgewingsvriendelik moontlik op te tree. Volgens Toro se bestuurder, Francois van Rensburg, gebruik Toro hoofsaaklik karton- en papierverpakking vir hul voorraad, papierstrooitjies en maak gebruik van Green Home se bio-plastiek produkte. Toro het hul eie klein herwinningstasie waarin kliënte hul koppies en strooitjies kan weggooi en hulle maak gebruik van CID se herwinningsprogram om ontslae te raak van ander rommel.

Volgens Carina Verster is bioplastiek en ander plastiekalternatiewe egter nie altyd so “groen” soos wat dit klink nie en doen soms meer skade as goed. 

Carina Vertser praat oor die gevare van bioplastiek.

Verster sê dat plastiek as ’n produk nie afgeskryf moet word nie, maar dat ons eerder moet wegbeweeg van ’n enkelgebruik- en weggooi-ingesteldheid. “Mense moet besef dat materie nie geskep of vernietig kan word nie,” sê Verster, “daar is nie iets soos ‘weg’ nie.”