Potch se Ou Tekkies sing die wêreld aan die brand

Kobie van Wyk (22), Wihan Botha (22) en Christo Franken (21), het ‘n paar dinge in gemeen. Al drie is inwoners van Patria-manskoshuis op die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroom-kampus, al drie het ’n natuurlike liefde vir musiek en hulle het saam die inisiatief geneem om ’n band te stig.

Christo Franken (21), Kobie van Wyk (22) en Wihan Botha (22) tydens hul eerste optrede as Ou tekkies by Patria-manskoshuis op 19 September 2021. FOTO: Jana Schlechter

Die band is amptelik in Augustus 2021 gestig en het die verhoog vir die heel eerste keer tydens hul koshuis se Snorgustus-geleentheid op 19 September daardie selfde jaar betree. Die drie Patria-inwoners het besluit dat hulle iets kort om te ontspan en ’n bietjie te ontvlug van student-wees. 

“Ons is al drie lief vir musiek, toe besluit ons om dit ’n kans te gee. Wat het ons om te verloor?” het Wihan Botha, vierdejaarstudent in kwantitatiewe riskikobestuur en die band se mondfluitjie- en akoestiese kitaarspeler, gesê. Met ‘n skewe glimlag op sy gesig, skerts hy dat ’n paar vrouestudente al vir hulle gesê het hulle is goed en moet dalk dit oorweeg om saam op te tree. 

Waar die naam Ou Tekkies nou eintlik vandaan kom, kan die drie manne nie sê nie, want hulle weet self nie regtig mooi nie. “Lack of better ideas, I guess,” sê Kobie van Wyk. Van Wyk is ook ’n vierdejaarstudent in kwantitatiewe risikobestuur en speel dromme en saksofoon vir die band.

Ou Tekkies saam met drie van hul aanhangers ná hul optrede by die jaarlikse SJGD liefdadigheidsbal wat op 9 April 2022 by Snowflake gehou is. FOTO: Jana Schlechter

Christo Franken, derdejaar in bedryfsingenieurswese en baskitaarspeler van die band, sê dat hy glo jy moet tyd maak vir die dinge wat vir jou belangrik is. “Ja, dis soms moeilik om alles te balanseer, maar as jy iets geniet, dan maak jy tyd daarvoor, al is jy ook hoe besig.” 

Die band oefen by Patria-manskoshuis in hul musiekkamer en beduie dat die koshuis tot dusver baie ondersteunend is. “Dis ’n tweerigtingverhouding, ons respekteer die inwoners en hulle boek ons vir vertonings.”

Ou Tekkies besig om te repeteer in die musiek-kamer by Patria manskoshuis. FOTO: Jana Schlechter

Hierdie nuwe musiekgroep spog met ’n bestuurder en ’n sosialemedia-koördineerder, altwee ook voltydse studente. 

Monique Honey (23), wat besig is met haar nagraadse studies by die NWU se Besigheidskool, is die band se bestuurder en eggo Franken se woorde wanneer dit kom by tyd maak vir die dinge wat jy geniet. “Dit vat nie baie tyd om mense te bel en afsprake te maak nie. Buitendien, ek geniet dit super baie!” “Ek is eintlik net hulle grootste fan dis al,” lag Honey. 

Die band se sosialemedia-blaaie word beheer deur Amoré Greyling (23), honneursstudent in opvoedkundige sielkunde. “Dis vir my baie lekker om te sien dat studente hul eie inisiatief neem en doen waarvoor hulle lief is, ongeag uitdagings soos om voltyds te swot. Ek dink Ou Tekkies is ’n lewende voorbeeld van ‘maak die beste van jou studentelewe’.”

Die lede van Ou Tekkies saam met hulle bestuurder, Monique Honey (23), tydens haar gradeplegtigheid. FOTO: Verskaf

Honey en Greyling het net goeie dinge te sê oor die band, nie net hulle musiek nie, maar ook die mense daaragter. “Hierdie drie ouens is baie nederig. Mens kan sien hulle doen dit net uit passie en liefde vir musiek maak, glad nie vir die spotlight nie.” Honey sê dat elkeen in die band so anders is, maar saam die perfekte harmonie vorm. Wat die band kop-en-skouers laat uitstaan bo ander studentegroepe is hul instrument-diversiteit en hulle vermoë om hul stempel op elke liedjie af te druk.

Al drie die groepslede stem saam dat Book of Love, oorspronklik deur Peter Gabriel, hul gunsteling-liedjie is. VIDEO: Jana Schlechter

Volgens van Wyk is Ou Tekkies nie net die tipiese band wat optree en daarna oppak nie, hulle kuier ook saam by die geleentheid en gooi dalk ’n sokkie met ‘n tannie of twee by. “Vir ons gaan dit net daaroor om dit te geniet en natuurlik ook vir jou óm dit te geniet.”

Franken se raad aan studente met groot planne is om net eenvoudig te begin en later tyd te spandeer daaraan om die projek te bou. “Wie nie waag nie, wen nie,” sê hy. 

Jy kan die band binnekort sien optree by Junie se Snowflake-aandmark. Die mark vind elke eerste naweek van die maand plaas. Ander kampusverwante geleenthede waar hulle te sien gaan wees, sluit in Patria July en Big Prims. “Jy kan ons bespreek deur ons op Instagram te DM of, as jy so bevoorreg is om een van ons nommers te hê, ons sommer persoonlik kontak.”