Ouditorium bars uit sy nate tydens eerstejaarskonsert

Wag-’n-Bietjie-vrouekoshuis en Patria-manskoshuis het koning gekraai met die Noordwes-Universiteit (NWU) se jaarlikse eerstejaarskonsert wat vanjaar ná drie jaar weer in die Sanlam Ouditorium op die Potchefstroomkampus plaasgevind het.  

Die trotse Kunste-huiskomiteelede van Patria-manskoshuis en Wag-’n-bietjie-vroukoshuis, Vihan Wentzel en Doné Senekal. Foto: Malebo Malatji

Van vulgêre studentegrappe en die  gewone sprokiesverhale soos Sneeuwitjie en die sewe dwergies was daar baie te siene, maar ʼn opvallende tendens in baie van vanjaar se produksies het die nuwe kykNET-realiteitstelevisieprogram Op My Eish nageboots. Die konsert het op 15 en 16 Maart 2024 plaasgevind.

In produksies soos Op My Eie, Op My Hitte en Op My Eina het die verskillende koshuisslepe net soos in die program ʼn karakter gehad het wat die oujongkêrel voorgestel het met vroue, of in dié geval honde, wat om sy hart meegeding het.

Die koshuise was soos gewoonlik baie kompeterend en die  seremoniemeesters moes die gehoor gereeld herinner om nie koshuisname uit te roep nie om die beoordeling so regverdig moontlik te hou.  Koshuisslepe is ook weer net volgens hul sleepnommer aangekondig.

Maar wen is nie vir almal alles nie. Gabby Coffee, LaVaria-vrouedorpskoshuis se Kunste-huiskomiteelid (HK-lid), het gesê die hoogtepunt was dat die eerstejaar tydens die voorbereiding ń les geleer het of vriende gemaak het. Dit was van haar doelwitte en is tien keer meer werd as enige trofee of prys.

Beurtkrag, die Wêreldbeker-rugbytoernooi en vanjaar se verkiesing het ook hier en daar kop uitgesteek, en die gespottery met Suid-Afrika se korrupsie het ʼn ernstige boodskap aan die gehoor oorgedra.

Conner Beck, die Kampus Studenteraad (KSR) se voorsitter vir kuns en kultuur,  het gesê dat die gehoor die konserte baie geniet het.  “Ons was vir albei aande uitverkoop en die mense kon nie ophou lag nie,” het hy gesê.

Die dooies wat kan dans van Sleep 14. Foto’s verskaf deur Conner Beck

Zoë Röhrs, ʼn vierdejaar-farmasiestudent wat by die konsert was, het gesê dit was ’n “wonderlike wegbreek waar ek super lekker kon lag”. Röhrs het gesê dat Sleep 3 se vertoning haar gunsteling was. Hul danse was gesinchroniseer met hul toertjies en liedjiekeuses. “Dit het werklik by tye my asem weggeslaan en my op die punt van my stoel laat sit.”  

Rico Taljaard, hoofafrigter van Excelsior-manskoshuis en Bellatrix-vrouedorpskoshuis se eerstejaarskonserttoneel, het gesê hy dink die eerstejaarskonsert is ʼn belangrike aktiwiteit 

“Dit is ʼn ongelooflike geleentheid vir eerstejaars om hul God-gegewe talente te gebruik deur iets te doen wat nie almal kan nie, en dit is om te vermaak.”

Volgens Taljaard maak die konsert baie deure vir eerstejaars oop en bou die saamwees ʼn familie, “kameraderie”.

Delia Steyn, ʼn eerstejaar van Vergeet-My-Nie-vrouekoshuis wat deelgeneem het, het gesê dat ten spyte van die baie tyd wat aan oefen afgestaan is, sy definitief volgende jaar se eerstejaars sal aanmoedig om deel te neem.  “Dit is 100% die moeite werd. Jy bou soveel bande en doen soveel lekker dinge saam.” 

Delia Steyn tydens Vergeet-My-Nie-vrouekoshuis en De Wilgers-manskoshuis, se Op My Eina.