Onwettige storting oopgekrap

“Ek wil nie eens met my hond hier stap nie.” Só beskryf ’n inwoner van Dyersstraat haar gevoel oor die rommelbestrooide veldjie voor haar huis.

Bierbottels, bourommel, ’n paar pantoffels en ’n dooie hoender is van die vullis wat jy kry wanneer jy tussen die lang gras van dié veldjie rondsnuffel. Die Dyersstraatveldjie, om die hoek van The High School for Girls Potchefstroom – Girls’ High – is een van die talle plekke in Potchefstroom waar mense onwettig rommel stort. (Sien ook Illegal rubbish dumping sites in Potchefstroom en rapporteer dié plekke op threestreamsmedia se interaktiewe kaart en Illegal waste concerns Ikageng residents).

Huishoudelike afval, bourommel, klere, en stukkende elektronika – amper enigiets is te vinde in die Dyerstraatveldjie. Foto: Sumari Coetzee

’n Entjie verder in Louwstraat in die suiddorp word vullis ook in ’n veld gestort. ’n Inwoner wat regoor die stuk grond woon glo daar moet teen die morsjorse opgetree word. “Onwettige storters moet gevang word,” sê hy.

Plastieksakke en glas- en plastiekbottels is van die rommel wat naby die Van Rooyen- saal agter ’n randjie langs Louwstraat versteek lê. Foto: Victor Helberg

In Geelhoutsraat, Miederpark, waar ook ’n stortingsprobleem is, sê nog ’n inwoner: “Ek tel so nou en dan vullis op, maar dit help nie. Die munisipaliteit vat net vullis weg wat in ordentlike sakke is, en los die res.” Die inwoners het gevra om anoniem te bly.

Volgens hoofstuk 7, artikel 152 in die Grondwet het munisipaliteite die verantwoordelikheid “om die verskaffing van dienste op ‘n volhoubare wyse aan gemeenskappe te verseker” en “om ‘n veilige en gesonde omgewing te bevorder.” Die JB Marks-munisipaliteit het nie navrae oor die saak beantwoord nie.

Inwoners en plaaslike organisasies voel egter dat owerhede se hantering van onwettige storting en rommelstrooiing onvoldoende is. Alta Pretorius, voorsitter van die burgerregte-organisasie AfriForum se #VegEnBou-skoonmaakweek, sê dat lede van die organisasie nie kan sien dat die J.B. Marks-munisipaliteit sy pligte nakom nie, en dus gryp hulle self in. Die voorgestelde agenda vir die #VegEnBou-week wat tot 17 Oktober plaasvind sluit onder andere in die opruim van die parkie oorkant die gholfbaan, die opvul van slaggate en die plant van bome.

“Jy het ‘n keuse of jy so wil bly, in die gemors en tussen die vuiligheid, en of jy ’n skoon omgewing wil hê,” sê Pretorius van AfriForum.

Die veld oorkant die studentebehuisingskompleks Green Meadow het ook in ’n plaaslike stortingsterrein verander. Foto: Sumari Coetzee

Terwyl storting en rommelstrooiing volop is in sekere van Potchefstroom se woonbuurte, het die Cachet Park City Improvement District (CID) nie ’n enkele geval van storting in die afgelope 12 weke gehad nie.

CID is ’n nie-winsgewende organisasie wat in 2019 tot stand gekom het om saam met die munisipaliteit te werk om plaaslike kwessies in die Potchefstroomomgewing aan te spreek. CID het ’n twee kilometer ‘veiligheidsone’ rondom die kampus van Noordwes-Universiteit (NWU) onder sy bestuur. Die gebied word deur 24-uur-kameras gemoniteer wat die CID in staat stel om onmiddellike stappe teen partye te neem wat hulself skuldig maak aan (onder andere) onwettige storting en rommelstrooiing.

Volgens prof Fika Janse van Rensburg, uitvoerende hoof van die CID, moet onwettige storting dadelik aangespreek word. Hy beklemtoon dat wetstoepassing en bewusmaking van onwettige storting belangrik is om dié kwessie in die kiem te smoor.

Volgens Kiewiet van Zyl, uitvoerende bedryfsbestuurder van CID, is dit elke Potchefstromer – besigheid en individu ‒ se verantwoordelikheid om sy omgewing skoon te hou. Hulle kan dit doen deur nie rommel te strooi nie, betrokke te raak by skoonmaakaksies en gevalle van onwettige storting onmiddellik aan te meld. Die CID moedig inwoners in die area aan om hul vullis in sakke met verskillende kleure te plaas: dit wat herwinbaar is en dit wat nie-herwinbaar is nie. – Charma du Plessis, Eduard van Loggerenberg, Janice-Lynn Witbooi, Sumari Coetzee, Victor Helberg

1 thought on “Onwettige storting oopgekrap

Comments are closed.