NWU-oriënteringstoepassing gewild onder eerstejaars

Altesame 7 500 eerstejaarstudente van 8 952 voorwaardelike en volledig geregistreerde studente het die Noordwes-Universiteit (NWU) se toepassing afgelaai om die Registrasie- en Oriënteringsprogram (R&O) te gebruik. 

Die NWU se toepassing is gebruik om aan eerstejaarstudente toegang tot die R&O-program te gee in 2021, te midde van Covid-19. Die toep is gebruik om deelname aan die R&O program te verhoog. 

Die toep kan apart of saam met die NWU se webtuiste gebruik word. Op die webtuiste is daar spesifieke webblaaie geskep vir die R&O-inhoud, soos inligting oor die agt fakulteite van die universiteit, studentelewe en ander ondersteuningsdienste. Die video hieronder wys hoe die toep gewerk het.

Die program het die studente onder meer geleer hoe om eFundi, die NWU se aanlyn leerportaal, te gebruik. Op die toepassing is daar ook verwelkomingsvideo’s.

Leroux Malan, die kantoor- en projekbestuurder in die kantoor van die uitvoerende direkteur: studentelewe, het gesê: “Sover ek weet, het ons die NWU-toep aktief in die jaarlike R&O program ingebring vanaf 2019, met ‘n verhoogde fokus tydens die 2021-program.”

Salome Smit, ‘n eerstejaarstudent wat vanjaar dieetkunde studeer, het gesê: “Ek het ‘n aangename ervaring gehad. Alhoewel mens gewoond geraak het aan ‘n fisieke verwelkoming, voel ek dat die NWU se app mens leiding gegee het. Ek het nie gewonder wat ek wanneer moes doen nie.”

Smit het gesê die NWU het hul bes probeer om, in die lig van die moeilike omstandighede, hulle as eerstejaars te verwelkom en te akkommodeer. Die oriënteringsprogram het haar ‘n beter idee gegee van wat om te verwag by die NWU en dat die toepassing verstaanbaar en maklik om te gebruik is. 

Heidi van Tonder (18) (Foto: Verskaf deur Heidi van Tonder)

Volgens Heidi van Tonder (18), ‘n verpleegkunde-eerstejaar by die NWU, is die oriënteringsprogram goed gehanteer en het dit goed afgeloop, ten spyte van Covid-19. “Dit was nie so opwindend soos normaal nie, maar ons is hartlik verwelkom.”

Volgens Smit sou sy graag meer inligting rakende haar eie fakulteit wou hê en inligting oor waar om eerstejaarshandboeke kan koop. 

Smit het opgemerk dat dit gerieflik sou wees om boodskappe van die toep af te kry as iets in haar fakulteit gebeur wat van toepassing op die eerstejaarstudente is.

Van Tonder sê dat baie van haar vriende nie geweet het wat aangaan met die oriënteringsprogram nie en dat sy epos-boodskappe sou wou kry wanneer daar iets op die toep bygevoeg is.