NWU klop Wits 31-3, maar mis uit op halfeind

Die Fanie du Toit Sportgronde was op 11 April 2022 gasheer vir ’n opwindende negende rondte van die FNB Varsitybeker 2022. Dié wedstryd was tussen die Noordwes-Universiteit Eagles en die Universiteit van die Witwatersrand (Wits). Dit was die laaste rondte van die rondomtalie uitklopwedstryde.

Hoewel die NWU 31 punte teen Wits aangeteken en ’n bonuspunt verwerf het, was dit nie genoeg om vir hulle ’n plek te verwerf in die halfeind nie. 

Die NWU Eagles en Wits-spanne sing die volkslied. FOTO: Ané Janse van Rensburg

Ruan “Sampie” Swiegers (24), vaskopstut en kaptein van die NWU Eagles, sê dat die span se grootste uitdaging was om gefokus te bly op die wedstryd wat hulle moet speel teen Wits, en nie op die bepalende wedstryd tussen Tuks en die Universiteit van Johannesburg (UJ) wat om 17:00 afgeskop het nie. Die uitslae van die laasgenoemde sou bepaal of die NWU na die halfeind sou deurdring of nie.

Swiegers meen egter dat die spelers positief kon bly, al het die uitslae nie in hul guns getel nie. “Ons het nooit opgegee nie en ons verdediging was in my opinie die beste wat dit nog was in die toernooi.” Swiegers is as speler van die wedstryd aangewys. 

Die NWU-kaptein het binne die eerste 22 minute van die wedstryd twee drieë vir die NWU aangeteken, wat volgens kommentators ’n deurslaggewende rol in die NWU se oorwinning gespeel het. Die derde drie is aangeteken deur senter Theuns Pretorius (21). Pretorius het ’n briljante buite- na binnelyn gehardloop, reg deur die gaping en goeie spoed gewys tot oor die doellyn om uiteindelik 19 punte teen die besoekers aan te teken. 

Wits-spelers met modderbedekte truie op die veld Maandag teen die NWU. FOTO: Ané Janse van Rensburg

Behalwe dat die wedstryd teen Wits ’n noodsaaklike een was om te wen, het die weer in Potchefstroom ook gesorg vir nóg ’n uitdaging. Die veld was ‘n modderbad en die spelers was sopnat, maar ten spyte van die strawwe weeromstandighede, het die skare nie geskroom om hul ondersteuning vir die boytjies te wys nie. 

Carli Kwakernaak (20), BEd onderwysstudent aan die NWU Potchefstroomkampus, meen dat die atmosfeer gespreek het van opgewondenheid en trots. Rakende die reën, het Kwakernaak geantwoord: “Vreemd genoeg was dit baie lekker! Almal het lekker saam gelag, gees gehad en die beste van die situasie gemaak.”

Carli Kwakernaak en Julius “Twak” Wapenaar was onder die ondersteuners wat die wedstryd Maandag bygewoon het. FOTO: Ané Janse van Rensburg

’n Verdere twee drieë is deur die vleuels Tino Swanepoel (21) en Pienaar van Niekerk (23) aangeteken. Heinrich “Boog” Botha (24), heelagter, sê dat die laaste drie deur Van Niekerk ’n treffende oomblik in die wedstryd was. 

“Die gevoel wat vir my oorheers het was dankbaarheid. Almal was dankbaar. Voor die wedstryd het Coach André [Pretorius] gevra dat ons moet speel vir iemand of iets wat na aan ons is. Die wil om te speel was duidelik merkbaar onder die ouens.” 

‘n Opsommende video van Maandagaand se gebeure. VIDEO: Ané Janse van Rensburg

Ná die NWU se oorwinning teen Wits Maandagaand, staan hulle met 29 punte op die Varsitybeker-punteleer, in die vyfde plek, slegs een punt agter die Universiteit van Pretoria (Tuks). Die NWU het verlede jaar (2021) vierde op die punteleer geïndig.