NWU help gestremde studente klas (en atletiekbaan) toe

Die Paralimpiese Spele vind later vanjaar in Tokio, Japan, plaas, maar gestremde atlete en ander gestremde mense in Suid-Afrika kom dikwels voor talle struikelblokke te staan.

Die Noordwes-Universiteit (NWU) doen egter hul deel om hindernisse op kampus en op die atletiekbaan uit die weg te ruim om sodoende die lewensgehalte van gestremde studente deur middel van konkrete optrede te verbeter.

NWU-student en paralimpiese atleet Liezel Gouws (22) besig om te oefen. (Foto: Karlien Meiring)

Die internasionale tema van gestremdhede wat die Verenigde Nasies vir hierdie jaar verkondig, is: “Die verwydering van hindernisse om ’n inklusiewe en toeganklike samelewing vir almal te skep”.

Alan Downey, stigter van Gestremdheid-inligting Suid-Afrika (DiSA), meen: “die implementering van regulasies en wette wat inklusiwiteit vir mense met gestremdhede moet moontlik maak, skiet te kort, wat daartoe lei dat mense met gestremdhede grotendeels uitgesluit word.”

Liezel Gouws (22), ’n vierdejaar farmasiestudent en paralimpiese atleet met ’n serebrale gestremdheid aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus, voel die NWU speel ’n beduidende rol in haar akademiese sukses en veral haar atletiekloopbaan. “Dis definitief ’n uitdaging vir die universiteit wat gestremde atlete aanbetref. Die personeel soos die sportwetenskaplikes, die biokinetici en selfs my afrigter, word uitgedaag om my te help omdat hulle nog nooit met ’n atleet soos ek moes werk nie,” het sy gesê. 

Gouws probeer tans om vir die Paralimpiese Spele te kwalifiseer, wat tussen 24 Augustus en 5 September 2021 in Tokio aangebied word.

Liezel Gouws (22) oefen tans om vir die Paralimpiese Spele te kwalifiseer, wat in Tokio, Japan, aangebied word. (Video: Karlien Meiring)

Gouws meen gestremde atlete sukkel om dieselfde erkenning as nie-gestremde atlete te kry. “Daar word neergekyk op die sport omdat baie mense glo dat dit maklik is om internasionale spanne te haal en dit word baie keer nie as “regte atletiek” gesien nie. Ons hardloop ook in verskeie gestremdheidsklasse waar jy geklassifiseer word op grond van jou gestremdheid. Daar is soms atlete in my klas wat baie minder gestremd as ek is, wat uitdagend kan wees,” het sy gesê.

Gouws is tans die enigste paralimpiese atleet in Potchefstroom en meen die universiteit se sportsentrum se grootste leemte is die gebrek aan ondervinding. “Die toerusting en fasiliteite is definitief wêreldklas en is jaarliks ’n plek waar verskeie internasionale paralimpiese atlete kom oefen. Hulle kort net meer atlete soos ek om hulle kennis en ondervinding te verbeter,” het sy gesê.

Hoe jy mense met gestremdhede kan help. (Infografika: Karlien Meiring)

“Die kwessie van toegang is baie belangrik, en die idee is om die universiteit so toeganklik moontlik te maak,” het Penelope Motshwene, hoof van die eenheid vir studente met gestremdhede op die NWU se Potchefstroomkampus, gesê.

Toegang tot ’n aantal historiese geboue op die NWU se drie kampusse was deur die jare heen ‘n probleem, aangesien sommige van die geboue nie ’n oprit of ’n hysbak het om mense met gestremdhede te akkommodeer nie.

Die NWU het intussen die Garaventa Super-Trac-trapklimmer bekendgestel, ’n draagbare rolstoelhysbak wat trappe kan klim.

“Alhoewel universele toegangsontwerp nou in geboue in ag geneem word, het ons nog steeds ou geboue wat moontlik nie toeganklik is nie, en dit is waar die trappiegangers van pas is,” het Motshwene gesê. Sy het bygevoeg dat hoewel die universiteit daaraan werk om al die ruimtes toeganklik te maak, dit belangrik is om ‘n tussentydse oplossing te hê wat die insluiting van alle persone moontlik maak.

Volgens Mothswene kan díe trapklimmer maklik bestuur word en kan dit binne en buite gebruik word. Sy sê dat elke kampus toegerus is met een Super-Trac trap-klimmer wat deur personeel, studente en besoekers gebruik kan word. Hierdie rolstoelhysbak kan maklik van een trap na die ander geskuif word, of selfs na verskillende geboue op die kampusse.

“Ons werk onverpoos om die kampus ten volle toeganklik te maak vir alle studente. Alhoewel nie alle geboue volledig toeganklik is nie, is die Kantoor vir Studente met Spesiale Behoeftes (OSSN) noodsaaklik in die organisering van strukturele of organisatoriese aanpassings om studente met gestremdhede in staat te stel om hul klasse by te woon of, indien nodig, alternatiewe maniere te vind om kurrikulums toeganklik te maak.” 

Voornemende studente word aangemoedig om die Noordwes-Universiteit in ’n vroeë stadium van hul aansoek te besoek om die geskiktheid en toeganklikheid van departemente, lesinglokale en woonplekke te evalueer en om die vlak van ondersteuning en fasiliteite te identifiseer.