Koshuisbrand: Moenie muurproppe oorlaai nie!

Moenie muurproppe oorlaai nie.

Dit is ’n belangrike les wat studente aan die Noordwes-Universiteit kan leer nadat die ondersoek na ’n brand in Huis Republiek wat onlangs afgehandel is, bevind het dat die geleidingskabel tussen elektriese toestelle en die muurprop moontlik oorlaai was. ‘n Yskas, mikrogolfoond en ketel was via die koord aan die kragpunt verbind.

Prof. Francois Muller, koshuisouer van Huis Republiek, het op 5 September aan threestreamsmedia gesê nadat die ondersoek gedoen is, blyk dit die koord was die probleem, maar die insident blyk ’n geïsoleerde een te wees.

Die brand het omstreeks middernag op 16 Augustus uitgebreek en buiten vir een student wat behandel is vir die inasem van rook was daar geen ongevalle nie.

Skade is aan verskeie toestelle aangerig. Foto’s: Christine Esterhuizen

Annika Terreblanche, ’n eerstejaarstudent, wou vir haar kos warm maak. Die mikrogolfoond het bo-op die yskas in die kamer gestaan wat sy deel met nog ‘n eerstejaarstudent, Christine Esterhuizen.

Sy het dit  aangeskakel en die kamer vir ’n oomblik verlaat waarna sy iets soos geweerskote gehoor het. Sy is terug na die kamer toe en het vlamme gesien en dat die verlengingskoord na die mikrogolfoond aan die brand geslaan het.

Volgens Esterhuizen het haar kamermaat kwart voor twaalf vir haar ‘n boodskap gestuur om te sê hul yskas werk nie en seker ‘n minuut daarna het sy mense begin roep omdat daar ‘n brand was.

Die vlamme is geblus voordat dit na ander dele van die kamer of die koshuis versprei het. Die huiskomiteelid, of HK-lid, wat die brand geblus het, Kayleigh Page, is behandel vir die inasem van rook.

Die inwoners op vier gange waar daar rook was, is na die Sports Village verskuif vir die nag. Buurkoshuise soos Minjonet en Ratau het ook die inwoners van Huis Republiek ondersteun.

“Minjonet het gebel om te hoor of is ons okei en Ratua het ons seker van 2:00 to 3:00 in die oggend in hul koshuissaal laat sit,” het Esterhuizen gesê.

As het in die vertrek agtergebly nadat die brand geblus is.