Klop, klop, dis (uiteindelik weer) Aardklop

Aardklop keer vir die eerste keer sedert 2019 terug na Potchefstroom. Dié fees, wat ook in Pretoria en Johannesburg aktiwiteite aanbied, word vanjaar van 30 September tot 2 Oktober 2022 op die Noordwes-Universiteit (NWU) se JOOL-plaas gehou terwyl teaterproduksies in die ouditorium op die kampus sal plaasvind.

Jean Stidworthy, die direkteur van bemarking by die NWU, het gesê dat die universiteit se betrokkenheid by Aardklop belangrik bly.  “Dit is vir ons belangrik … om die kunste van ons land te ondersteun,” sê hy.

Wat bied Aardklop vanjaar?

Op die JOOL-plaas kan feesgangers uitsien na ’n verskeidenheid uitstallers met produkte van skoene en juwele tot braaigereedskap en speelgoed. Tussendeur kan feesgangers die biertent en kinders die pretpark besoek.

Daar sal ook ‘n kosmark wees wat voorsiening maak vir elke palet. Op die  feesterrein se verhoog sal kunstenaars soos Wolwe Dans, Jakkie Louw en Janie Bay Vrydag, 30 September, en Saterdag, 1 Oktober  optree.

“Dit is die eerste keer wat ek in Potchefstroom optree en ek is baie opgewonde dat dit by die Aardklop Kunstefees is,” het Janie Bay, liedjieskrywer en sanger, gesê.

Janie Bay het al saam met Spoegwolf en Early B gewerk. Foto: Janie Bay/Facebook.

In die Beeld-ouditorium sal feesgangers na teaterproduksies met kunstenaars soos Marion Holm, Margit Meyer-Rodenbeck, Ilne Fourie en Neels Coetzee kan kyk, wat in aksie is in die produksie Laerskool Noord.

Verder sal die akteur, Frank Opperman, in Ek wens, ek wens verskyn. Dié produksie is as die beste produksie by Aardklop Nasionale Kunstefees in 2021 bekroon en Opperman het ook ‘n toekenning ontvang as beste akteur vir sy eenmanvertoning. Kaartjies vir dié vertonings beloop R200 per persoon.

Verder sal kunstenaars soos Rocco de Villiers en Nataniël onderskeidelik by die NWU se Konservatorium en die NG Kerk Miederpark optree.

Frank Opperman, in sy rol as Tony Fivaz, in die reeks Vlug na Egipte. Foto: Frank Opperman/Facebook.  

Wynette Theart, Aardklop se media- en bemarkingbeampte, het vroeër in September in ‘n persverklaring gesê dat die fees uiteraard op ‘n kleiner skaal aangebied word as vroeër jare.

Dit is as gevolg van verskeie faktore soos skoolvakansies wat nie oorvleuel nie en dit kan ook toegeskryf word aan toenemende lewenskostes en brandstofpryse, volgens die verklaring.

“Die huidige ekonomiese klimaat is nie gunstig vir gehore nie, daarom is ons dankbaar vir elke feesganger wat vanjaar die moeite doen om weer die kunste te ondersteun. Natuurlik hoop ons dan ook dat Aardklop in 2023 na sy normale self sal terugkeer,” het sy gesê.

Theart sê dat die bestuur van Aardklop die meeste uitsien na die samesyn.

Hulle is opgewonde dat almal weer saam kan kuier en dat almal die kunste en kultuur in Afrikaans saam kan beleef en koester.

“Dit is ons mandaat om te verryk, verras, vermaak en te versoen,” sê sy.

Die hekke na die feesterrein sal elke oggend om 09:00 oopmaak en toegang tot die feesterrein is slegs R50 (kinders onder 12 is gratis). Daar sal kaartjies by die ingang verkoop word maar daar word slegs kaartbetalings aanvaar. Alternatief kan feesgangers kaartjies aanlyn koop.