Kampioenvegter Dricus ‘Stillknocks’ du Plessis in Potch vir fondsinsameling

Deur Amike Viljoen

Dricus du Plessis, die huidige UFC-middelgewigkampioen, gaan Saterdag, 15 Maart, help met ‘n fondsinameling vir studente wat akademies presteer, maar wat sukkel met studieskuld of wat hul befondsing verloor het.

Die geleentheid is deur Noordwes-Universiteit se Potchefstroom kampusstudenteraad (KSR) gereël en word op die Joolplaas gehou.

Dricus du Plessis Image: Facebook

Reuben Coetzer, die KSR-voorsitter en sy span, en dr Corrie Rheeder, die direkteur van studentelewe, het die geleentheid gereël.

“Almal wat al studente was, verstaan mens werk kliphard om die graad te kry en dan is daar een of twee modules wat jou terughou” het Coetzer gesê. Hy glo dat die geleentheid studente se lewens kan verander: “Daar is ‘n groot verskil tussen ‘n blink toekoms [waarin ’n mens]  werksgeleenthede kan kry en iemand wat ‘n werklose jeugdige is.”

By die geleentheid sal ’n veiling gehou word  waar getekende Dricus du Plessis-toebehore opgeveil sal word, byvoorbeeld ‘n UFC-vegtershandskoen, truie en ‘n portret van die kampioen. 

Die veiling sal voorafgegaan word deur ‘n battle of the bands waaraan plaaslike musiekgroepe soos Veervol, Perspektief, Willow Rose, Koekeloer, Kerk Straat en Die Geelveter-kommittee sal deelneem om Potch se beste groep te kies. Na die veiling sal daar ‘n interaktiewe bespreking oor Dricus se sukses gehou word.  

Volgens die ESPN neem Dricus du Plessis, oftewel Stillknocks, soos hy in die vegterswêreld bekend staan, in die middelgewig afdeling van die Ultimate fighting championship, of UFC, deel en was hy die eerste Suid-Afrikaner om die UFC kampioenskap te wen. Hy het al twee keer sy titel as kampioen verdedig.

Volgens Coetzer het Du Plessis se sukses en roem bygedra tot die besluit om die geleentheid te hou wat aanklank sal vind by studente, sowel as die Potchefstroomgemeenskap en een van die KSR se doelwitte is om ‘n geleentheid  te hou  wat almal sal geniet en terselfdertyd soveel as moontlik geld in te samel.

“Mens kan altyd soveel meer doen en dit is regtig wat ons poog om met hierdie geleentheid te bereik” het Coetzer bygevoeg.  

Een van hul doelwitte is ook om mense te kry om donasies te gee, tesame met die donasies wat reeds ingestuur is.

Studente het aan 3SM gesê hulle is opgewonde om hul held te ontmoet.

“Hierdie is ‘n besonderse inisiatief wat baie studente se lewens gaan verbeter..,”  het Ané Schumacher, ‘n vierdejaar BCom-student gesê. Mia Buys, ‘n vierdejaar BSc-student, het gesê: “Hy is so ‘n groot inspirasie en ek kan nie wag om hom in lewende lywe te sien nie”.

Die geleentheid is Saterdag van 9:00-13:00. Kaartjies kos R150 en kan elektronies gekoop word deur hier te kliek.

Weldoeners kan donasies maak deur van die volgende Absa-rekening gebruik te maak: Noordwes-Universiteit, rekeningnommer 670642313, takkode 632005 en verwysingsnommer 3B01575.


 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.