Jong mense gebruik TikTok vir ontvlugting, bemarking en nuus

TikTok is so gewild dat selfs die Noordwes-Universiteit (NWU) in Augustus 2021 ʼn TikTok-profiel geskep het met die doel om die NWU-handelsmerk te bemark, asook om met huidige en toekomstige studente te skakel.

Gregory Sekobotsane, digitale media bemarker van die NWU, het gesê dat die normale verbruiker sowat twee uur per dag op die platform spandeer, en dat TikTok “lig en prettig” is.

TikTok word deur baie mense gebruik om videos te geniet, of om self videos te maak en op die toep te laai. FOTO: Chanté du Plessis

Wêreldwyd spandeer verbuikers sowat 20 uur per maand op TikTok, luidens ʼn artikel deur Tech Wire. Dit is veel meer as op ander platforms soos Facebook and WhatsApp. TikTok is veral gewild onder jong mense (bekend as generasie Z).

Donovan Grace (24) en JC Fensham (24), NWU alumni, besig om ʼn TikTok video te maak. FOTO: Chanté du Plessis

Christiaan de Klerk (21), ʼn honneursstudent in gevorderde korporatiewe kommunikasie by die NWU, het gesê: “Dis asof daaglikse verantwoordelikhede mens se lewe oorvat, so TikTok laat my toe om ʼn breek hiervan te vat en van die werklikheid te ontsnap vir ʼn paar minute.”

De Klerk voeg by dat hy TikTok bo ander sosiale media platforms verkies omdat TikTok so ontwerp is dat die algoritme vir jou videos sal voorstel waarin jy belangstel. “TikTok-videos maak my lag, ontspan en inspireer my,” het De Klerk gesê.

Sommige mense weet nie presies hoe die toep werk nie. Die video verskaf ʼn kort verduideliking van hoe sommige aspekte van die platform werk. VIDEO: Chanté du Plessis

ʼn Artikel deur Hootsuite wat fokus op 2022 TikTok-statistiek, stel dat die toep deesdae gebruik word vir meer as net danse en komiese verligting. Die platform kan onder meer gebruik word vir bemarking en stel baie handelsmerke in staat om met hulle jonger teikenmark in kontak te kom. 

TikTok word vir baie redes gebruik deur verbruikers, soos aangedui op die infografika. INFOGRAFIKA: Chanté du Plessis

Stacey Swanepoel (22), alumna van die NWU, gebruik die platform om haar besigheid te bemark. “TikTok is ʼn goeie toep om te gebruik wanneer jy jou besigheid wil bemark, aangesien jy na baie mense kan uitreik, want deesdae het almal TikTok,” het sy gesê.

Baie studente besit TikTok en verduidelik dat dit kan lei tot die uitstel van ander, belangriker verantwoordelikhede. VIDEO: Chanté du Plessis

Alhoewel die platform deur baie geliefd is, vind verbruikers dat die toep baie van hul tyd steel. Adele Potgieter (20), ʼn NWU BCom bemarking- en toerismebestuurstudent, het gesê dat sy al vele male gedink het sy gaan ʼn vinnige video op TikTok geniet, en dan voordat sy haar oë kan uitvee, het sy ʼn hele uur op die toep gespandeer.