Hulplyn kan jou help met angs, depressie

“Een van ons studies toon dat die tweede grootste oorsaak van sterftes onder jongmense in Suid-Afrika en hoër onderwys spesifiek selfdood is,” sê dr Ramneek Ahluwalia, uitvoerende hoof van Hoër Gesondheid SA oor uitdagings wat universiteitstudente regoor die land in die gesig staar. 

Studente se geestesgeestesgesondheid is kommerwekkend. Bron: Unsplash.

Wêreldgeestesgesondheidsdag het Saterdag, 10 Oktober, plaasgevind en het gehelp om bewusmaking te skep. Studente moes hul universiteitservaring aan die Covid-19 pandemie afstaan, maar die akademiese spanning wat met tersiêre onderrig gepaard gaan, het in werklikheid toegeneem.

In ‘n verklaring van die farmaseutiese maatskappy, Pharma Dynamics sê Abdurahman Kenny, portefeuljebestuurder vir geestesgesondheid, dat die aanpassing tot aanlyn leer, akademiese verwagtinge en isolasie verreikende gevolge op studente se geestesgesondheid kan hê. 

Nomonde Nyengule (22), ’n derdejaarstudent in kommunikasie aan die Noordwes-Universiteit (NWU), sê: “Ek het by die NWU vir berading gegaan, daar kon ek met ’n sielkundige praat oor dit waardeur ek gaan.” Sy meen verder dat bewusmaking oor geestesgesondheidsprobleme onder studente aan die NWU ’n prioriteit is. 

Die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding het onlangs in reaksie op die Covid-19-pandemie en die nasionale grendeltyd, ‘n 24-uur tolvrye hulplyn bekend gestel om universiteitstudente en personeel tydens die pandemie te ondersteun. Dit is ‘n gesamentlike projek van die departement, Hoër Gesondheid SA (Higher Health SA) en die Suid-Afrikaanse Depressie- en Angsgroeps.

“Hierdie diens ondersteun al ons studente en kampusgemeenskappe met geestesgesondheidsuitdagings, diegene wat geslagsgeweld beleef en ander psigososiale gesondheidsuitdagings as gevolg van Covid-19, ” het die minister van hoër onderwys, wetenskap en tegnologie, Blade Nzimande, einde September gesê. Verder moedig hy enige student aan om hierdie tolvrye nommer 0800 36 36 36 te gebruik, dag of nag. 

In die twee weke sedert die bekendstelling in September, het hierdie hulplyn meer as 500 individue suksesvol gehelp om oplossings te vind en ernstige, dikwels tragiese gevolge van geestesongesteldheid af te weer, het Nzimande gesê.

Volgens Masutane Modjadji, die projekleier van die Suid- Afrikaanse Federasie vir Geestesgesondheid (SAFMH) se Inligting en bewusmaking, is daar nie ‘n enkele oorsaak van geestesgesondheidsprobleme nie, maar dat geestesgesondheidsversteurings geneties oorgeërf word of veroorsaak word deur verskillende faktore soos spanning, traumatiese ervarings, misbruik of langdurige gebruik van skadelike middels. 

Modjaji meen studente se geestesgesondheid kan hul akademiese prestasie beïnvloed deurdat studente se aandag afgelei word van akademiese verpligtinge. “Soms kan geestesgesondheidsafwykings episodies wees, wat dit vir die individu moeilik maak om selfs klas by te woon of skoolwerk te doen. As die geestesgesondheidsprobleme ernstig is, hospitalisasie benodig en skooltyd onderbreek, kan dit daartoe lei dat iemand akademies agterbly,” sê sy. 

SAFMH het oor die jare saamgewerk met instellings en studente om bewustheid van geestesgesondheid te verhoog. “Dit is belangrik dat elke student toegang het tot geestesgesondheidsdienste en dat hulle weet waar hulle hulp kan vra indien hulle geestesgesondheidsorg en ondersteuningsdienste benodig,” sê  Modjadji. SAFMH het ook inligting oor geestesgesondheid op hulle webwerf wat veral op jong mense gerig is.

Modjadji stel voor dat as ’n student sy/haar geestesgesondheid wil verbeter, dat hy/sy situasies vermy wat spanning veroorsaak, waar en indien moontlik. “As iemand met ‘n geestesgesondheidsversteuring gediagnoseer is, sal dit help om die toestand te bestuur. Gesins- en gemeenskapsondersteuning help ook baie,“ voeg sy by.

Die United Nations (UN) verskaf raad vir die verligting van geestesgesondheidsprobleme tydens die pandemie. Bron: Unsplash/United Nations.

SAFMH is ’n geregistreerde nie-winsgewende, menseregte-organisasie wat hoofsaaklik fokus op die bevordering en bewusmaking van geestesgesondheid. Volgens Modjadji is hul doel “om die regte van die gebruikers van geestesgesondheidsorg te handhaaf en te pleit vir verbeterings aan geestesgesondheidsdienste in Suid-Afrika.” – Mizanne Hattingh, Karlien Meiring, Cara Steyn en Minke Swart