Hoe NWU se beskermingsdienste misdaad beveg

Met die groeiende misdaadsyfers in Suid-Afrika, is ’n veilige studentelewe  nie altyd ‘n gegewe nie. Einde 2021 is die Noordwes-Universiteit (NWU) egter deur studente as die veiligste universiteit in die land benoem – ‘n prestasie wat grootendeels aan die Departement Beskermingsdienste van die Universiteit te danke is.

Op die NWU se Potchefstroom-kampus is daar dikwels ’n wanpersepsie van wie Beskermingsdienste is en wat hulle doen. Hierdie wanpersepsie ontstaan omdat studente nie weet wat in die kantore van gebou F17 gebeur nie.

Jak Jansen van Vuuren, afdelingshoof van ondersoeke en informasie by die NWU se Beskermingsdienste, het gesê dat “Beskermingsdienste soveel meer doen as net toegang tot die Universiteit beheer of saans in voertuie met flikkerende ligte rondry”. Alhoewel hierdie ook aktiwiteite is waarvoor hulle verantwoordelik is, is daar baie wat “agter die skerms” aangaan, het Jansen van Vuuren gesê.

Die Departement Beskermingsdienste van die Noordwes-Universiteit op die Potchefstroom kampus is geleë in gebou F17 (oorkant die Sanlam-ouditorium). FOTO: Jana Schlechter

Volgens Des Ayob, direkteur van die Departement Beskermingsdienste by die NWU, volg hulle ’n pro-aktiewe benadering met betrekking tot hul dienste en optrede. Janse van Vuuren het hierby gevoeg dat van hulle take insluit om risikobepalings te doen en sogenaamde brandpunte vir diefstal en ander misdaad op kampus te identifiseer en hiervolgens vir die NWU-bestuur aanbevelings te maak oor waar en hoe hulle geld moet bestee aan sekuriteit.

Die bostaande infografika dui die drie hoofdienste en/of afdelings binne die NWU se Departement Beskermingsdienste aan. INFOGRAFIKA en FOTOS: Jana Schlechter

Een van hierdie brandpunte is Ratau Lebone Manskoshuis waar daar in Maart vanjaar in slegs twee weke twee skootrekenaars en ‘n selfoon gesteel is.

Reece Schmidt (21), huiskomiteelid van Ratau Lebone en ‘n vierdejaarstudent in inligting- en informasietegnologie (IT), se skootrekenaar is uit sy kamer op die koshuis se grondvloer gesteel.

“Ek het klaargemaak vir ‘n koshuisgeleentheid en my venster op ’n skreef oopgelos vir ventilasie, my kamerligte afgesit en die deur gesluit. Toe ek later die aand terugkom in my kamer was my rekenaar nie op my lessenaar nie. Dit was merkbaar dat daar aan die kabels getrek is en my venster was oop.” Schmidt het gesê hy het Beskermingsdienste dadelik gebel en dat hulle binne 10 minute op die toneel was. 

Jansen van Vuuren het by navraag gesê dat lede van Beskermingsdienste ontplooi is om gedurende daardie paar dae die koshuis te monitor. Hulle het selfs buite die koshuis in hul voertuie geslaap. “Ons het die haak gekry wat gebruik is om die skootrekenaars nader aan die venster te trek. Ons het ook al verdagtes in hierdie spesifieke geval.”

Reece Schmidt (21) ‘n slagoffer van skootrekenaar-diefstal op die NWU se Potchefstroom-kampus. FOTO: Jana Schlechter

Louis Jacobs, woordvoerder van die NWU, het gesê dat die veiligheid van die universiteit se personeel en studente ‘n prioriteit is. “Die sekuriteitsmaatreëls en -planne wat in plek is, het al bewys dat beskermingsdienste die kapasiteit het om probleme aan te spreek sodra hulle opduik.” 

Alhoewel beskermingsdienste alles in hulle vermoë doen om die kampus te beveilig, is dit egter onmoontlik om dit alleen te doen. Daarom word studente aangemoedig om beskermingsdienste te kontak indien hulle enige verdagte optredes sien. 

Nommers om te kontak in gevalle soos hierdie: