Groot atletiek in Potchefstroom lok top-atlete

Die derde been van Atletiek Suid-Afrika (ASA) se Grand Prix-reeks verlede week het nie teleurgestel nie om atletiektalent in Potchefstroom ten toon te stel.

Op Woensdag 6 April het die derde been van die Kontinentale Toer se uitdagingsbyeenkomste (“Challenger Events”) by die NWU McArthur-atletiekstadion plaasgevind. Die byeenkoms is deel van ’n reeks van vyf Grand Prix-geleenthede wat deur die jaar reg oor Suid-Afrika plaasvind.

Dié Grand Prix-byeenkomste skep die geleentheid vir klub- en studente-atlete om mee te ding met die supersterre van die atletiekgemeenskap. Van hierdie supersterre sluit in die 800m olimpiese kampioen, Caster Simenya, asook internasionale atlete soos Jakub Vadlejch van Tsjeggië wat die silver medalje verower het vir spiesgooi by die 2021 Tokio Olimpiese Spele. Hulle was slegs ’n paar van baie ander supersterre wat by die byeenkoms in Potchefstroom te sien was. 

Bianca le Grange (23) van NWU Atletiek in aksie tydens haar 400m lopie by die ASA Grand Prix-byeenkoms op 6 April 2022. FOTO: Jana Schlechter

Bianca le Grange (23), NWU-atleet in die 400m en nagraadse student by die universiteit se sakeskool, het gesê dat deelname op internasionale vlak teen internasionale atlete mens leer om druk te hanteer. “Die druk is goed. Dit motiveer jou om jou grense te toets en so jou beste moontlike tye of afstande te lewer.”

Le Grange het die agtste plek behaal in die 400m met ’n tyd van 56.92 sekondes.

Goeie tye en afstande in die uitdagingsbyeenkoms kan atlete laat kwalifiseer vir die Wêreldkampioenskappe wat geskeduleer is om in Julie vanjaar in Eugene, Oregon, Amerika plaas te vind. 

Emel Keyser (18), eerstejaarstudent in sportwetenskap aan die NWU, het aan die einde van Maart aan die ASA se Baan en Veld Junior Kampioenskapsbyeenkoms in die 110m hekkies vir die ouderdomsgroepe onder 16 tot 20 deelgeneem, en het ook verlede week aan die uitdagingsbyeekoms in Potchefstroom deelgeneem.

Keyser het in die Junior Kampioenskapsbyeenkoms die finaal van die onder-18 wedloop gewen met ’n tyd van 13.49 sekondes. Die hekkiehoogte was 99cm. Dit was ’n tyd wat hom laat kwalifiseer het om Suid-Afrika as junior atleet by die Wêreldkampioenskappe te gaan verteenwoordig. Sy tyd was ook ’n nuwe nasionale rekord. “Die rekord breek was ‘n absolute bonus. Ek het net gehardloop om te kan kwalifiseer vir die ‘World Champs’,” het hy gesê.

Keyser het gesê hy het sy talente op senior vlak getoets deur ook aan die Grand Prix-byeenkoms deel te neem. “Die Grand Prix Woensdag was slegs my tweede wedloop op senior-vlak, omdat wat ek eintlik nog ‘n junior is. Ek is volgende jaar ‘n senior, dus sien ek vanjaar as ‘n voorbereidingsgeleentheid.”

By die Grand Prix-byeekoms het hy agtste geëindig in die 110m-hekkies, met ‘n tyd van 14.38 sekondes. Die hekkiehoogte was 106.6cm.

Emel Keyser (18) het aan die ASA se Baan en Veld Junior Kampioenskapsbyeenkoms deelgeneem vir die span van Sentraal Noordwes, waar hy ‘n nuwe nasionale rekord in die 110m hekkies vir mans onder 18 opgestel het. Tydens die ASA Grand Prix-byeenkoms verlede week het hy in die NWU se kleure deelgeneem. FOTO: Jana Schlechter

Tydens die Grand Prix-byeenkoms was daar ook items waaraan para-atlete kon deelneem.

Liezel Gouws (23), meesterstudent in farmaseutiese chemie en ‘n T37 klassifikasie para-atleet wat die NWU verteenwoordig, neem reeds van 2013 op internasionale vlak vir Suid-Afrika deel en sê dat geleenthede soos die Grand Prix-byeenkomste as ’n bate bestempel kan word.

Liezel Gouws (23) is ’n T37 kategorie para-atleet wat beteken dat sy ’n koördinasie waardedaling het. FOTO: Jana Schlechter

“Atlete, veral jong opkomende atlete, wat toegelaat word om op hierdie vlak teen die beste van die beste deel te neem, doen soveel ondervinding op.” Gouws sê ook dat internasionale byeenkomste diepte tot die Suid-Afrikaanse atletiekgemeenskap voeg en oor die langtermyn volhoubaar sal wees.

Gouws het in ‘n gemengde lopie met twee para-atlete en drie meestersatlete aan die 100m deelgeneem en het ‘n tyd van 14.42 sekondes behaal.