Gradeplegtigheid 2022: Wat om te weet

Ná twee jaar is die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroom kampus weer lewendig nadat kontakklasse hervat is. Die vraag op baie se lippe is, “wat van vanjaar se gradeplegtigheid?”.

Tydens die Covid-19-inperkingstyd was dit onmoontlik om kontak-gradeplegtighede aan te bied. Dit was vir baie studente ’n teleurstelling omdat dit vir van hulle hul enigste gradeplegtigheid sou wees.

Lover’s Lane op die Potchefstroom-kampus is ’n gewilde plek vir gradeplegtigheidfoto’s. FOTO: Anchen Coetzee

Daar gaan wel vanjaar in-persoon gradeplegtigheidgeleenthede wees, het Louis Jacobs, direkteur van korporatiewe kommunikasie by die NWU, gesê. Studente het reeds hul uitnodigings van die NWU begin ontvang en die seremonies begin einde Maart ná die reses. Huidige Covid-19 beperkings beteken sekere reëls en regulasies is steeds nodig.

Jacobs, het gesê “dit is veral belangrik vir die potensiële positiewe ervaring wat verband hou met in-persoon gradeplegtighede en die geleentheid vir studente om die ervaring met familie en vriende te deel.”

Louis Jacobs, direkteur van korporatiewe kommunikasie by die NWU. FOTO: Anchen Coetzee

Volgens die amptelike uitnodiging van die NWU word graduandi toegelaat om elk drie gaste te nooi. Hulle sal kaartjies kry vir die dag van die plegtigheid. Die uitnodiging maak dit ook duidelik dat slegs die graduandi self in die Santam-ouditorium toegelaat sal word. Gaste sal elk ’n sitplek hê in die amfiteater waar hulle die gradeplegtigheid via ’n lewendige uitsending kan kyk.

In ’n mediaverklaring op 24 Februarie 2022 het prof. Linda du Plessis, toe waarnemende-visekanselier van die NWU, gesê dat daar elke jaar sowat 12 000 graduandi is. By elke seremonie is daar sowat 200 tot 300 graduandi wat betrokke is by die meer as 50 seremonies. Boonop is daar gaste wat van reg oor Suid-Afrika kom om die geleentheid by te woon. Daarom is dit belangrik om die Covid-19 beperkings in ag te neem.

Jacobs het in dieselfde mediaverklaring gesê dat gaste nie verplig sal word om ’n inentingsertifikaat te toon om gradeplegtighede by te woon nie. Daar sal wel van gaste verwag word om maskers te dra, wat ingesluit sal wees in die gradueringspakket wat gaste op die dag van die plegtigheid sal ontvang.

Marco Lewis (21) en Guyle le Roux (23) ontvang vanjaar hul grade. Le Roux is ’n ingenieurstudent. FOTO: Anchen Coetzee

Marco Lewis (21), BSc aktuariele wetenskap-gegradueerde en honneursstudent, het gesê, “ek dink dis regtig ’n onvergeetlike ervaring as jy in die ouditorium is en fisiek jou graad kry.”

In 2020 en 2021 moes graduandi hul gradeplegtigheid via ’n lewendige uitsending op YouTube kyk as gevolg van die Covid-19 inperkings op daardie stadium.

Charma du Plessis (22), ’n honneursstudent in joernalistiek- en mediastudies, het gesê, “my BA-gradeplegtigheid was net ’n video op YouTube wat ek nie eens gesien het nie, want ek was vasgevang in verkeer op pad huis toe.” Du Plessis het gesê dat die aanlyn gradeplegtigheidseremonie “onpersoonlik en onseremonieel” gevoel het, asof sy nie regtig haar graad klaar gemaak het nie.