Gesoek: Gereelde skenkers om bloedkrisis te verlig

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens (SANBD) se bloedvoorraad is naby aan krisisvlakke.

Die SANBD het vroeër vandeesmaand in ‘n verklaring  gewaarsku dat beperkings as gevolg van die koronavirus die diens se vermoë om voldoende bloedvoorraad in te samel ernstig beperk.

SANBD Potchefstroom is besig om mobiele klinieke in die gebied vir studente op te rig. Foto: Unsplash/Luann Hunt

 Op vlak 3 en 4 kon die SANBD nog doeltreffend werk en bo die minimum van 3000 eenhede bloed per dag versamel, gelykstaande aan vyf dae se bloedvoorraad. Khensani Mahlangu, woordvoerder van die SANBD, meen egter dat die diens naby aan krisisvlakke is. “Op die oomblik is ons daaglikse gemiddeld 3,5 dae se voorraad,” sê sy.

“Dit is nou eers [op vlak 2], dat mense weer onbeperk rondbeweeg en dat ons werklik die daling in bloedvoorrade ervaar. Die rede hiervoor is grootliks omdat ondernemings, skole en universiteite nie oop is vir ons mobiele bloedskenklinieke nie,” sê sy.  

Die SANBD se bloedvoorraadvlakke grens aan krisisvlakke. Infografika: SANBD

Die organisasie sukkel met die beveiliging van lokale wat as skenkersentrums kan dien. Mense wat gereelde bloedskenkers is, moes in die grendeltyd tuis bly en is reeds terug by die werk, sonder die vrye tyd wat hulle voorheen gehad het om skenkersklinieke te besoek.

Monique Schreiner, die SANBD hoof van skenkersverhoudinge in Potchefstroom, sê hulle is in die proses om mobiele klinieke in die gebied vir studente op te rig, omdat hul nie meer toegang tot die universiteitkampus het nie. “Ons is baie afhanklik van die studente wat bloed skenk. In die tyd van die pandemie is amper 700 eenhede minder bloed as gewoonlik geskenk. Dit sluit die mobiele skenkersklinieke op kampus se voorraad in.”

Covid-19 en die grendeltyd bedreig bloedvoorraadvlakke weens ‘n daling in skenkings. Infografika: SANBD

Thomas Maphutse (22), ’n derdejaarstudent in kommunikasie aan die Noordwes-Universiteit (NWU), sê dat hy bewus is van die bloedtekort. “Ek het gaan skenk sedert die begin van die inperking. Ek het gaan skenk by die plaaslike bloeddiens [op die Bult].” Verder sê hy dat hy nie toegang kon kry sonder ’n masker nie, dat sy koors geneem is en dat hy ’n handontsmetmiddel moes gebruik. 

Daar is egter studente wat weens die inperking onseker was en die skenkersentrums vermy het. Carmen Reyneke (21), ’n derdejaarstudent aan die NWU, sê: “Ek is bewus van dit [bloedtekort]. Ek het nie aan die begin van Covid-19 geskenk nie, omdat ek versigtig was toe die virus net kop uit gesteek het.”

Die SANBD se voorvereistes om bloed te skenk. Bron: SANBD

Deel van die voorsorgmaatreëls wat getref is deur die SANBD in verband met Covid-19 gevare is die uitstel van skenkingsdatums met 28 dae vir diegene wat onlangs oorsee gereis het, ’n bevestigde Covid-19-diagnose het of in aanraking daarmee gekom het. Indien ’n skenker griepsimptome toon, sal die skenkingsdatum met 7 dae uitgestel word. 

Om bloed te skenk, moet voornemende skenkers aan die volgende riglyne voldoen: Vry van verkoue en griepsimptome wees, tussen die ouderdom van 16 en 75 wees, meer as 50 kg weeg en ‘n goeie leefstyl handhaaf. – Gesondheidsredaksie