Gemeenskapsdiens groei aanlyn te midde van pandemie

Die Studente-JOOL-Gemeenskapsdiens (SJGD) het hul nie deur die uitdagings van Covid-19 laat onderkry nie, en ’n SJGD-kurrikulum ontwikkel wat vanjaar aanlyn gevolg gaan word.

Ná die aankondiging van ’n landwye inperking in Maart 2020, het SJGD hul projekte verander om aan die Covid-19-verwante regulasies te voldoen. Volgens Yolané Pienaar, kampusstudenteraadslid (KSR) verantwoordelik vir SJGD op die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroomkampus, floreer SJGD opnuut in ’n aanlynomgewing. “SJGD is die hart van die gemeenskap, die pandemie sal ons nie onderkry nie,” het sy gesê.

Pienaar het benadruk dat SJGD groei ten spyte van regulasies wat steeds verhinder dat studente na hul projekte kan terugkeer. “Ons het besluit om hierdie geleentheid te gebruik om nuwe projekte te begin,” het sy gesê. Die kampus-studenteraad (KSR) en die uitvoerende komitee het ’n kurrikulum ontwikkel waarvolgens die SJGD-leiers op kampus moet werk. Die program is aanlyn en enige veranderings is onderhewig aan goedkeuring deur die NWU se Covid-19-taakspan.

Madelein de Jager (21), SJGD-huiskomitee-lid van Oosterhof-vrouekoshuis, het vertel dat alle SJGD-aksies tans aanlyn plaasvind. “Die KSR en die uitvoerende komitee doen baie moeite om seker te maak dat SJGD nie stilstaan nie,” het sy gesê. Volgens haar bly die fokus op die gemeenskap, selfs al vind die aksies in díé stadium net tussen die studente plaas. De Jager is opgewonde oor die aanlynaktiwiteite wat sy en haar komitee al vanjaar aangepak het. “Ons het nou die dag reinigingsmiddel by die huis gemaak, ons hoop om dit binnekort na ons projek in Ikageng toe te vat,” het sy gesê.

Jana Schlechter (20), SJGD-HK-lid van Heide-vrouekoshuis, meen dat die afwesigheid van studente in die Ikageng-gemeenskap opvallend is. “As ek slegs my projek in Ikageng mag gebruik as ’n voorbeeld – die skoolterrein is toegegroei, dis vuil, tekens van vandalisme is sigbaar en dis net die dinge wat mens kan sien,” het sy gesê. Schlechter hoop om spoedig terug te keer na hul projek om in persoon om te sien na behoeftes.

Volgens Pienaar is die aanlynprogram tydelik. “SJGD-aksies vind tans via Zoom plaas, maar ons het reeds ’n aansoek ingestuur om aksies weer in persoon te kan hou,” het sy verduidelik. Verder het sy die belangrikheid van SJGD in die gemeenskap beklemtoon. “Sommige projekte se infrastruktuur toon erge agteruitgang,” het sy gesê.

Izette Uys (20), SJGD-projekleier van Khayalethu Village, ’n tehuis vir bejaardes in Ikageng, meen dat die grootste behoeftes, naamlik kwaliteit-tyd en aandag, steeds nie bevredig kan word nie. “Die mense is eensaam, hulle het iemand nodig om saam met hulle aktiwiteite te doen. Op die oomblik mag niemand eens by hulle gaan inloer nie,” het Uys gesê.