Dricus du Plessis-insameling laat rande inrol

Suid-Afrika se UFC wêreldkampioen, Dricus du Plessis, het Noordwes-Universiteit gehelp om R200 000 in te samel. Die geld sal gebruik word om studente met studieskuld te help.

Eagi, die NWU-gelukbringer, en Dricus du Plessis, UFC-kampioen. Foto: Amike Viljoen

Sowat 600 kaartjies is verkoop aan studente, hoërskoolleerders en inwoners van Potchefstroom. Dr Corrie Rheeder, die uitvoerende direkteur van studentelewe aan die NWU, het gesê die geleentheid het geslaag in sy doel: “Die [mense] wat hier was, wou regtig kom en wou ook ‘n verskil maak in ander studente se lewens in terme van die studieskuld wat hulle het.”

Die veiling waar items soos getekende T-hemde en wyn opgeveil is, het nog R10 000 ingebring. Donasies van R20 000 is ook deur die gelukbringerfonds van die universiteit ingesamel. Die bedrae sal by die R200 000 gevoeg word.

Du Plessis het aan threestreamsmedia gesê: “Die volgende wêreldkampioen kan hier staan. Die jeug van môre is die belangrikste en as ek een mens kon inspireer vandag om beter te wees, was dit ‘n groot sukses.”

Sy paar woorde van wysheid aan studente was: “Maak nie saak wat dit is wat jy doen nie, as jy lief is daarvoor en jy is bereid om enige iets te doen om dit te kry, sal jy dit kry. Jy kan nie net droom nie, jy kan nie net hoop nie, jy moet ook werk – en dis al wat ooit sal betaal.”

Musiekgroepe soos Veervol, Koekeloer, Willow Rose en Kerkstraat dit uitgespook in die battle of the bands by die fondsinsameling wat op 15 Maart  gehou is. Kerkstraat is as die wenner aangewys.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.