Die vere maak die Pukki: Gelukbringer se identiteit bekend
Die Noordwes-Universiteit (NWU) se gelukbringer, Pukki, het vanjaar op 5 April graad gevang en volgens tradisie is Pukki se ware identiteit op daardie dag aan studente bekend gemaak.
Eben “Stoof” van der Merwe (23), ʼn gegradueerde aan die NWU se Potchefstroomkampus, het sedert sy tweedejaar sy lyf Pukki gehou. Net hy en die NWU se gelukbringer-koördineerder het geweet hiervan.
Van der Merwe, oftewel Pukki, het gesê die grootste uitdaging was om dit ’n geheim te hou. “Baie keer wil jou pelle iets gaan doen of iewers heen gaan en dan moet jy baie vinnig aan ’n verskoning dink, maar dit was beslis die moeite werd om ’n paar Varsity Cup-wedstryde saam my pelle te mis.”
Die NWU bied talle geleenthede aan wat die waardes en doelstellings van die NWU vasvang. Pukkie verteenwoordig ’n unitêre NWU by hierdie geleenthede.
Wico Janse van Rensburg (20), student in BCom bedryfs- en organisasie-sielkunde met arbeidsverhoudingebestuur en studentegelukbringerkoördineerder, het verduidelik hoe die tradisie rondom die NWU se gelukbringers werk.
Die NWU se gelukbringerverkiesings vind jaarliks plaas, aan die einde van die tweede semester, wanneer aansoeke oop is vir alle studente wat belangstel om die volgende gelukbringer, of deel van die gelukbringerkomitee te word. Aansoekers moet bereid wees om die NWU-handelsmerk vrywillig te dien.
Die kandidaat moet ook oor atletiese vaardighede beskik om te kan hardloop, spring en te improviseer. Die identiteit van die persoon wat die pak dra, word geheim gehou tot die dag wat hulle gradueer. Op hul gradeplegtigheidsdag sal hulle oor die verhoog stap in die skoene van die spesifieke gelukbringer wat hulle was. Ná hierdie dag sal hulle nooit weer die pak dra nie, en dit sal aan die volgende gekose persoon oorgedra word. Die gelukbringer moet die universiteit se lewendige studentelewe verteenwoordig.
Amoré van der Linde (21), derdejaarstudent in Bcom ondernemingsbestuur met internasionale handel en ekonomie, sê dat Pukki die liefde van die NWU weerspieël. “Sy rol is beslis om die ware beeld uit te leef van wat die NWU werklik is; [dat] dit die plek is waar jy kan wees wie jy wil en dat jy kan bereik wat jy self besluit.”
Van der Merwe het oor sy gunsteling herinneringe as Pukki gesê: “Varsity Cup-wedstryde is beslis ’n hoogtepunt. Die vibe saam die studente is net ongelooflik.” Van der Merwe noem ook die studente JOOL Gemeenskapsdiens (SJGD), en sê dat “die glimlagte wat ek op die kinders se gesigte gesien het, meer werd is as al die geld in die wêreld.”
Verney Eyberg (23), BEd honneursstudent, het verduidelik dat kampus nie dieselfde sonder Pukki sal wees nie. “As ek aan die PUK dink, sien ek vir Pukki. Hulle loop saam soos stroop! Ek is beslis opgewonde om die nuwe Pukki by die volgende amfi-sessie raak te loop!” het Eyberg gesê.
Van der Merwe het gesê hoewel dit bittersoet is om Pukki te groet, hy graag die Pukki’s wat ná hom volg die volgende toewens: “Wees altyd die liefdevolle gelukbringer wat elke student op ’n moeilike dag nodig het. Lewe elke dag voluit en geniet dit net.”