Die Bok blêr in Potchefstroom
Die Afrikaanse sanger Bok van Blerk het op Donderdag 10 Maart 2022, met sy eerste optrede in Potchefstroom sedert die Covid-19 pandemie, behoorlik gesorg vir ’n paar moeë stemme en deurgedansde vellies.
Dit was duidelik uit die gehoor se reaksie dat hierdie optrede lank afgewag is deur die NWU se Potchefstroom-studente. “Bok was vir my ’n baie goeie ervaring! Ek het elke oomblik daarvan geniet en sy liedjies is uit die boonste rakke,” het Jana Michau (22), derdejaarstudent in menslike bewegingswetenskappe, gesê.
Die konsert by Snowflake was ’n aand vol opwinding, met nuwe musikale talent wat ook die gehoor behoorlik laat gons het.
Ruan Jordaan (26), een van die openingsangers, is as een van die gunstelinge beskou. Jordaan, wat verlede jaar die liedjie “Meer as gereed” saam met Bouwer Bosch (38) uitgereik het, meen dat gees in oorvloed was met die optredes. “Dit is altyd lekker in Potchefstroom, die studente is ’n hele vibe!” het Jordaan gesê, wat reeds spog met drie enkelsnitte wat op alle musiekplatforms beskikbaar is.
Die gehoor het Bok van Blerk se liedjies, met kêpse afgehaal, hande op die bors en toe oë, met mening saamgebulder. “Bok se komieklike persoonlikheid en passievolle lirieke het die hart van die Afrikaanse kultuur vasgevang,” het Michau gesê.
Ter ere aan “die huis op kampus”, Patria Manskoshuis, het Van Blerk die aand afgesluit met die koshuis se temalied “Ons vir jou, Suid-Afrika”. Hendri Lange (21), vierdejaarstudent in BSc Grondkunde met Agronomie en trotse inwoner van Patria Manskoshuis, het die volgende gesê oor Bok van Blerk se afsluiting: “Dit was ‘n ongelooflike hoendervleis-oomblik! Ek sal dit vir seker nooit vergeet nie.”
Van Blerk se stellys is gevul met liedjies soos “Koue voete, warm liefde”, “Datsun bakkie”, “Kleindorpiegevoel”, “Bosveld Afrika” en vele meer.