Beskerm jouself teen gevaarlike brande 

Ná nóg ’n brand ’n gesin se huis in Potchefstroom op 17 Augustus verwoes het, het kenners inwoners, studente ingesluit, gevra om voorkomende voorsorgmaatreȅls te tref vir ingeval ’n brand hul eiendom of lewens bedreig.   

Die afgelope paar maande was daar verskeie brande wat huise en duisende hektaar landerye en weiding in en om Potchefstroom vernietig het. Kenners sê die skade kan verminder en selfs voorkom word as ’n mens presies weet wat om te doen as ’n brand jou woning, woonstel of lesingsaal tref.

Dr. Kobus Roux, die voorsitter van die Potchefstroom brandbeskermingsvereniging, het die brande vanjaar in die Potchefstroom-omgewing as “baie uitsonderlik” beskryf. Hy het verder gesê omdat die wind vroeër as normaalweg begin waai het, kon hulle nie alle veiligheidsmaatreëls in plek kry nie. Roux het gesȇ dat hulle steeds voortgegaan het om alles in hulle vermoë te doen om die brande suksesvol te bestry.


Working on Fire se branbestryders probeer ‘n brand bestry.
Foto: Kobus Roux, verskaf deur Potchefstroom se brandbeskermingsvereniging

“Ons het dit tog reggekry om meeste van ons strategiese goed in plek te kry, maar waarmee ons baie sukkel hierdie jaar is mense wat die veld doelbewus aan die brand steek. Dit is hierdie jaar ’n baie groot probleem waar dit in die vorige jare nie was nie.”

Roux het die afgelope ses maande se veldbrande beskryf as “baie intensiewe vure wat baie warm gebrand het as gevolg van die baie brandmateriaal ná die reën en natuurlik die sterk wind van Augustus wat besonders sterk is hierdie jaar.”

Indien daar ’n brand in jou huis of woonstel uitbreek, is Roux se raad: “Die eerste ding is om seker te maak dat jy en jou familie ’n escape route het. Kom so vêr as moontlik uit die huis uit.” Hy het sterk beklemtoon dat “menselewens ’n absolute prioriteit is.”

Tweedens is dit belangrik om te leer wat om te doen en hoe om ’n brandsituasie te hanteer, het Roux gesê. Leer aan of vertel die mense wat saam met jou bly wat om in hierdie noodsituasies te doen. 

Hou noodnommers byderhand waar almal dit kan kry in ’n noodgeval. Stoor die brandweer se nommer op jou slimfoon – 018 293 1111. Uit ondervinding weet Roux dat die brandweerdiens “op en wakker” is. En natuurlik is dit belangrik om te kan sê waar jy bly – ken jou adres, het Roux studente aangeraai.

Grafika: Zesuliwe Hlongwane

Luidens ’n artikel oor brandveiligheid op die Potchefstroom Herald se webtuiste stel hulle voor dat “die kennis van brandveiligheid die beste verdediging teen die verspreiding van vuur” is, voordat enige ander voorsorgmaatreëls getref kan word. 

Hulle het die veiligheidswenke van Bic Lighter oor brandvoorkoming opgesom en raad gegee oor wat mens moet doen in die geval van ’n brand.

Volgens studente neem die Noorwes-Universiteit (NWU) ook stappe om studente teen vure veilig te hou. 

Ashleigh Mtetwa (22), ’n regsstudent in haar honneursjaar, wat op die Potchefstroomkampus in ’n koshuis woon, het bevestig dat hulle elke jaar in April en Mei ’n brandoefening het, om die gepaste stappe te kan neem wanneer ’n brand sou uitbreek. Elke koshuisinwoner is bewus van prosedures wanneer ’n brand uitbreek. 

Studente kan Potchefstroom se brandbeskermingsvereniging skakel by 018 293 1111 of 018 293 1112 vir enige noodsituasie van mediese gevalle tot brandsituasies. Indien daar ’n noodsituasie op kampus is, kan studente die NWU se beskermingsdienste kontak om te rapporteer en hulp te vra by 018 299 2211. – Danél  Janse van Rensburg, Zesuliwe Hlongwane, Julia Leeu &  Ntokozo Khanyi