Aardklop 2023: Kuns is terug waar die hart klop

“Ons is terug.”

Só het Alexa Strachan, Momentum Beleggings Aardklop se bestuurder, op 14 Maart 2023 bekend gemaak dat die fees van einde vanjaar weer terug is in Potchefstroom.

Aardklop se bestuur het die fees se terugkeer saam met ou en nuwe vriende by The Roots gevier. Die hutsmerk hierkomons is bekend gestel en Strachan het vertel wat die fees, wat onder meer deur Momentum Beleggings ondersteun word, gaan behels. Aardklop sal van 3-8 Oktober 2023 in Potchefstroom kuier.

Aardklop is in 1998 die eerste keer gehou en het gou bekend geword vir sy drama, poësie, musiek, kabaret en visuele kunste. 

Volgens Strachan het die Covid-19-pandemie Aardklop ‘n knou gegee. “Die kunste is die hardste geslaan van al die bedrywe. Ons het in ‘n baie klein grot gaan sit en letterlik net probeer oorleef. Ons het soveel as moontlik geld ingesamel om vir kunstenaars kos op hul tafels te sit want dit is wat Aardklop doen.” 

Dié fees het in 2021 geskuif na Gauteng  omdat die meeste van die fees se kaartjieverkope vanaf Gauteng kom. Volgens Wynette Theart, wat die borge en bemarking by Aardklop hanteer, het die fees in 2021 en 2022 in Pretoria plaasgevind, maar was baie kleiner. In 2022 is die fees ook in Linden (Johannesburg) gehou, maar slegs teater en gesprekke is aangebied.

Die fees het vroeër jare op die Bult plaasgevind. Strachan het beklemtoon dat die skuif van die Bult na die Fanie du Toit-sportgronde meer sin maak. “Maklike toegang en veilige parkering is nie op die Bult beskikbaar nie, maar die Noordwes-Universiteit (NWU) se sportgronde bied dit.” 

Sy het verder gesê dat dit Aardklop ‘n “astronomiese bedrag” geld kos om al die sekuriteitswagte aan te stel. “Strate moes ook toegemaak word en in die verlede was dit ‘n gesukkel om die plek skoon te maak.”  Wanneer strate toegemaak word, sukkel Potchefstromers ook dikwels om toegang  tot hul eiendomme te kry. 

Daar is planne om die feesterrein groter te maak om meer stalletjies, gaste en kunstenaars te kan huisves. 


Alexa Strachan, die feesbestuurder, het by The Roots meer vertel oor vanjaar se fees en oor sy terugkeer na Potchefstroom.  Foto’s: Pieter Lombaard

Strachan het gesê dat die fees in 2022 deur die 189 produksies werk geskep het vir tientalle dramaturge, musikante, visuele kunstenaars en tegnici. Altesame 260 tydelike werkers is ook aangestel. Sy het beklemtoon dat hul fokus in 2022 nie op nuwe produksies was nie, maar om soveel as moontlik geleenthede vir kunstenaars te skep.

“Aardklop se enigste doel is om vir die kunstenaars ‘n platform te skep waar hulle ‘n inkomste kan genereer en om hul talente met ons te deel.”

Strachan het verskeie uitdagings geïdentifiseer, soos feeste in die Kaap wat met Aardklop se datums oorvleuel. “Ons deel definitief die kunstenaars, en dit is nie ‘n ideale situasie nie.” Dit gaan onderhandeling kos om kunstenaars en tegnici by albei hierdie feeste te hê.

Sy is ook bekommerd oor die huidige ekonomie en die impak daarvan op kaartjieverkope. “Die meeste feesgangers kom van Gauteng af.” Strachan het gaste aangemoedig om mense uit Gauteng na Aardklop te nooi.

“Ek is ook bekommerd oor beurtkrag.” Strachan beklemtoon dat beurtkrag die produksieskedule gereeld kan onderbreek want daar moet ongeveer 20 minute gewag word voordat noodkrag inskop.

Sy het die NWU bedank vir sy bystand en ondersteuning maar terselfdertyd ‘n beroep gedoen op gastehuise, plaaslike sakelui en inwoners om dié fees ‘n sukses te maak.

Jonathan Baron, voorsitter van die Potchefstroom Sakekamer, het gesê dat hulle trots is op Aardklop vir die werk wat hulle tydens die pandemie gedoen het om te verseker dat die fees nog bestaan. 

Yvette Lombard, die terreinkoördineerder van Aardklop, sê dat hulle altyd ‘n platform sal aanbied vir alle tipe kunste, nie net die kunste op hul verhoë nie, maar ook die kunste deur mense wat met hul hande iets maak. Sy het bygevoeg dat Aardklop se program gegrond is op die vier V’s: verryk, verras, vermaak en versoen.

“Jy kan nie hier wees en nie weet dit is Aardklop nie. Daar is ‘n gees, atmosfeer, vrye denke en assosiasie, robuuste verskille, opinies, liefde, warmte, en aggressie,” het Strachan gesê. 

Die program vir Aardklop 2023 sal op 13 Junie in Potchefstroom bekend gemaak word waarna Potchefstroom se inwoners, Beeld-lesers en Aardklop se hartsvriende van 16 Junie af eerste die geleentheid sal kry om hul kaartjies te bespreek. Nasionale kaartjieverkope sal volg op 19 Junie. – Deur Asanté Goeda & Waydon Jacobs